Spanwerk die wagwoord teen Munster

Die SA A-span wat vanaand teen Munster speel. Foto: Twitter.

Die A-Team is bekend vir hul innoverende planne en dat hulle altyd as ʼn span saamwerk. Hannibal Smith, Faceman Peck, Howling Mad Murdoch en B.A. Baracus het nie sommer hul eie koers ingeslaan nie.

Net so moet die Suid-Afrikaanse A-span nie vanaand op individuele talent staatmaak om Munster te troef nie; spanwerk is beslis die wagwoord.

“Die spelers verstaan dat hierdie wedstryd ʼn gulde geleentheid is om vir die nasionale afrigters te wys wat in hulle steek. Hulle moet dit as’t ware onmoontlik maak vir die Bok-keurders om hulle te ignoreer,” het Bafana Nhleko, assistent-afrigter, gesê.

Hy het terselfdertyd ook ʼn waarskuwing gerig: Munster sal hoegenaamd nie kanonvoer op hul tuisveld in Cork wees nie.

“Ons sal as ʼn span moet saamwerk as ons suksesvol wil wees. Gelukkig het al die spelers – van die ervare ouens tot die groentjies – hul beste op die oefenveld gegee. Ons speel teen ʼn Munster-groep wat met sewe internasionale spelers spog en ons sal die wedstryd met die nodige respek benader.”

Thomas du Toit (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Nodeloos om te sê gaan die wind weer waai in Ierland, terwyl reën ook voorspel word. Thomas du Toit het egter beloof dat sy span gereed sal wees vir enige uitdaging.

“Ons het vandeesweek in soortgelyke toestande vir die wedstryd voorberei en op die veld is die weersomstandighede in elk geval dieselfde vir al twee spanne,” het die SA A-kaptein gesê.

“Hierdie is ʼn baie goeie geleentheid vir elke speler om sy naam in die Springbok-hoed te gooi.”

Die wedstryd begin vanaand om 21:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

SA A: Aphelele Fassi (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Henco van Wyk (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Jean-Luc du Preez (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Phepsi Buthelezi (flank), Ruan Nortjé (slot), Jason Jenkins (slot), Thomas du Toit (kaptein en stut), Joseph Dweba (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Simphiwe Matanzima, Sazi Sandi, Dan du Preez, Sikhumbuzo Notshe, Grant Williams, Sanele Nohamba en Gianni Lombard.

Munster: Mike Haley (heelagter), Shane Daly (regtervleuel), Antoine Frisch (buitesenter), Rory Scannell (binnesenter), Simon Zebo (linkervleuel), Ben Healy (losskakel), Paddy Patterson (agtsteman), Gavin Coombes (agtsteman), John Hodnett (flank), Jack O’Donoghue (kaptein en flank), Kiran McDonald (slot), Edwin Edogbo (slot), Roman Salanoa (stut), Diarmuid Barron (haker) en Josh Wycherley (stut). Plaasvervangers: Niall Scannell, Liam O’Connor, Keynan Knox, Cian Hurley, Alex Kendellen, Neil Cronin, Patrick Campbell en Malakai Fekitoa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.