Speler uit SA kry 16 in Europese toets

ʼn Speler uit Suid-Afrika het Saterdag in Split, Kroasië, 16 punte in die jongste weekronde van die Europese toetsreekse aangeteken.

Jason Newton (skrumskakel), wat die Goue Leeus op o. 16-vlak verteenwoordig het, het ʼn drie gedruk en met vier doelskoppe en ʼn strafdoel vir die Kroate teen Ciprus geslaag.

Die tuisspan het die kragmeting in Afdeling 1 Suid met 46-24 gewen.

Die KwaZulu-Nataller Andrew Binikos rig Ciprus af.

♦ Ook in dié afdeling, het die gewese Witsie Ori Abutbul (buitesenter) in Netanja, Israel, albei die tuisspan se drieë teen Malta verdoel, in ʼn wedstryd wat die Maltese met 21-14 gewen het.

Israel word deur ʼn oudafrigter van die Ikeys, Kevin Musikanth, gebrei.

♦ Swede het op sy tuiswerf in Norrköping vir ʼn enorme skok in Afdeling 1 Noord gesorg toe hy Moldawië – wat 12 plekke beter gekeur is – met 80-6 verfomfaai het.

Twee Ierse broers Murphy het saam 30 van die wenspan se punte aangeteken.

Conor (losskakel) het 17 met ʼn drie en ses doelskoppe op die telbord geplaas, en Philip (heelagter) het met ʼn drie en vier doelskoppe vir 13 gesorg.

♦ Afdeling 2 Suid het nóg ʼn skok opgelewer toe Slowenië tuis in Ljubljana die veel beter geagte Andorra met 48-14 afgeransel het.

♦ In Afdeling 2 Noord het die tuisspan in Riga, Letland, vir Finland met 24-7 verslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.