Stormers blus sommer vroeg Dragons se vuur

Herschel Jantjies op die voorvoet teen die Dragons. Foto: Twitter.

Die Stormers het vandag in Gqeberha sommer vroeg die Dragons se vuur met ʼn skitterende vertoning in die eerste helfte geblus.

Vier sprankeldrieë binne die eerste 40 minute het die grondslag vir hul uiteindelike oorwinning van 34 – 26 gelê.

Die tuisspan het egter in die tweede helfte hul voet van die versnelpedaal gehaal, terwyl die Walliese spelers hul geleenthede begin aangryp het. Dit was so ʼn hittete of die besoekers het die Kapenaars se partytjie bederf.

Maar hulle kon nie daarin slaag nie en ʼn mens kan seker boeke oor die Stormers se vertoning in die eerste helfte skryf.

As jy ooit die woord “hardlooprugby” in ʼn elektroniese woordeboek wou opsoek, dan sou jy seker ʼn skakel na hierdie wedstryd gekry het. Want vergeet van skoppe – die Stormers het hulle ore platgetrek en gehol; maak nie saak waar hulle hulself op die veld bevind nie.

Manie Libbok gaan krag tot krag in die nommertientrui, terwyl Ruhan Nel se drie die tuisspan se goeie samespel en verstandhouding onderstreep het.

Tussendeur al die gladde hanteerwerk en bobaas pypkanbewegings het Junior Pokomela en Joseph Dweba darem ook twee voorspelerdrieë gedruk, terwyl die Kaapse rugbybase al eintlik reeds moet begin planne beraam om vir Deon Fourie ʼn standbeeld te bou – dié losvoorspeler is darem ʼn doring wanneer daar om die bal op die grond baklei moet word.

As die Stormers vir die volle 80 minute só kan speel, sal min spanne by hulle kan kers vashou.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Junior Pokomela, Joseph Dweba, Ruhan Nel en Manie Libbok. Doelskoppe: Libbok (3) en Clayton Blommetjies. Strafskoppe: Libbok (2).

Dragons: Drieë: Jordan Williams, Aki Seiuli, JJ Hanrahan en Josh Reynolds. Doelskoppe: Hanrahan en Will Reed (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.