Stormers kry dalk vir Etzebeth terug

Eben Etzebeth. Foto: Facebook.

As ʼn mens van een ding seker kan wees vóór die naweek se Noord/Suid-derby op Nuweland, is dit dat die Bulls se Handré Pollard beslis pale toe sal aanlê wanneer daar ’n strafskop binne die Stormers se gebied is.

Die Stormers se instaan-kaptein, Steven Kitshoff, het verlede week onder die kritici deurgeloop omdat hy verskeie Joshua Stander-strafskoppe van die hand gewys het om eerder drieë te jaag.

Sy besluite het egter ietwat in sy gesig ontplof: sy span het 17 – 19 teen die Brumbies verloor. Net een suksesvolle strafskop sou die telling 20 – 19 gemaak het.

Gelukkig vir Kitshoff, Robbie Fleck en al die ander Stormers-ondersteuners, behoort die hardebaard-slot, Eben Etzebeth, sy terugkeer in die Stormers-trui vir die naweek se Bulls-kragmeting te maak.

Etzebeth is ’n reus – nie net in die lynstane nie, maar in al die ander fasette van die Stormers se spel. Sy vuurvreter-houding kan egter punte vir die Bulls beteken: ’n strafskop in sy eie halfgebied beteken punte vir Pollard en Pretoria.

Handré Pollard. Foto: GB Jordaan.

Indien die twee spanne die Suid-Afrikaanse wisselvalligheidstendens getrou navolg, behoort die Stormers dan die naweek te wen (omrede hulle teen die Brumbies vasgeval het) en die Bulls te verloor (omdat hulle ’n week of wat gelede die Reds op Loftus kafgedraf het).

Die Nuweland-geskiedenis is in die Stormers se guns. Die Bulls kon laas in 2011 ’n wedstryd op die Kapenaars se tuisveld wen, maar die meer onlangse geskiedenis is beslis in die Pretorianers se guns.

Hulle het immers die Stormers vroeër 40 – 3 op Loftus geklop en beklee tans die eerste plek op die Suid-Afrikaanse afdeling van die Super-punteleer.

Omdat die SA spanne vanjaar swak presteer, kan die Stormers – wat tans in die laaste plek met hul 19 punte is – ranglysspronge maak.

Hulle sal egter vinnig die spronge moet maak: die Jaguares (weg) en die Crusaders wag volgende op hulle.

  • Vorige kragmetings tussen dié twee spanne op Nuweland (sedert 2011)

2011: 19 – 16 vir Bulls

2012: 17 – 20 vir Stormers

2013: 13 – 30 vir Stormers

2014: 0 – 16 vir Stormers

2015: 13 – 15 vir Stormers

2016: 9 – 33 vir Stormers

2017: 24 – 37 vir Stormers

2018: 17 – 29 vir Stormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Richard ·

Rugby is die groot verloorder, veral op Nuweland met hul uiters swak gemanierde toeskouers. Verleentheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.