Stormers kry skrumhupstoot vir Loftus

Frans Malherbe, die Stormers se Springbok-stut. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Die Bulls is altyd ʼn krag op Fort Loftus, maar die Stormers kan dalk op ʼn skrumwerk-rammei staatmaak om die skanse plat te slaan.

Rito Hlungwani, die Kapenaars se voorspelerafrigter, het bevestig dat Frans Malherbe wel deel van die Stormers se wedstrydplanne is.

Die Springbok-stut het sedert die Wêreldbeker-eindstryd in Frankryk nog nie weer vir die Stormers uitgedraf nie nadat ʼn seer rug hom langs die kantlyn gehou het.

Hy skaaf egter vir die afgelope tyd weer aan sy vaardighede op die oefenveld en hy kan in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Bulls speel.

“Dit is baie goed om vir Frans terug te hê. Hy is ʼn baie ervare speler en waarskynlik een van die heel beste stutte ter wêreld,” het Hlungwani gesê.

Die Springbok se teenwoordigheid kan natuurlik ook vir Neethling Fouché tot selfs hoër hoogtes aanspoor.

“Dit is ʼn groot hupstoot om vir Frans terug te hê en die ouens oefen nou selfs harder. Dit maak nie saak of hy in die opdrafspan of op die plaasvervangersbank is nie; hy sal ʼn rol in die groep speel. Dieselfde geld ook vir Neethling.”

Benewens Malherbe kan die Stormers ook op die dienste van spelers soos Deon Fourie, Manie Libbok en Damian Willemse steun om die Bulls-planne vir die soveelste keer op ʼn streep te fnuik.

Hoewel die Stormers goeie rugby in aanloop tot die groot derby gespeel het, het die Bulls ook momentum in hul wedstryde teen die Lions opgebou.

In hul jongste kragmeting teen die Johannesburgers op Ellispark het hulle hoegenaamd nie op alle suiers gevuur nie, maar hulle het nogtans vier drieë gedruk om die tweestryd met 25 – 10 te beklink.

“Ek geniet die feit dat ons onder die voorste spanne op die punteleer tel, ek hou daarvan dat ons die Bulls-stempel op wedstryde afdruk en ek hou ook daarvan dat ons vier drieë kan druk selfs wanneer ons nie op ons beste is nie,” het Jake White, die Pretorianers se direkteur van rugby, gesê.

  • Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Willem Strauss het vandag bevestig dat daar nog net 10 000 kaartjies vir die kragmeting beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.