Stormers sien uit na stryd teen Franco se Skotte

Dan du Plessis glimlag breed met die bal in die hand. (Foto: Hansie Linde)

Uit ʼn suiwer vermaakoogpunt speel die Stormers tans die lekkerste rugby in Suid-Afrika. Die vaardighede van Manie Libbok, Leolin Zas, Dan du Plessis en Damian Willemse beteken dat die Kapenaars gereeld ʼn juweeldrie – selfs teen die verloop van spel – uit hul rugbyhoed kan pluk.

John Dobson se troepe is tans in Europa waar hulle vir Sondag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Glasgow Warriors voorberei. ʼn Week later sal hulle teen London Irish in ʼn Kampioenebeker-wedstryd te staan kom.

En ondanks die feit dat verskeie sleutelspelers – onder wie Frans Malherbe, Evan Roos, Herschel Jantjies en Ruhan Nel – nie vir die toer beskikbaar is nie, is die Stormers-breier steeds opgewonde oor wat sy span kan vermag.

“Die toestande is heeltemal anders as waaraan ons op ons tuisveld gewoond is en die twee wedstryde sal beslis ʼn toets vir ons wees. Terselfdertyd is ʼn paar senior spelers nie beskikbaar nie, maar ons sien daarna uit om die jonger spelers ʼn kans te gee,” het Dobson gesê.

Intussen verwag Norman Laker (assistent-afrigter) ʼn lekker tweestryd teen die Glasgow Warriors se bekende gesigte.

Franco Smith. Foto: Facebook.

ʼn Rits van die Skotte se spelers is in Suid-Afrika gebore, terwyl Franco Smith ook deesdae die afrigtersleisels van die klub vasvat.

Toe Smith destyds aan die stuur van die Cheetahs was, het die Vrystaters gereeld die driedrukkrane in Bloemfontein oopgedraai.

Tog het spelers soos Joseph Dweba en Junior Pokomela kennis van die talentvolle afrigter se planne en idees; dinge wat die Stormers beslis as teenvoeter kan gebruik.

“Dit gaan ʼn goeie uitdaging wees. Ons is trots op ons verdediging en die wyse waarop ons geleenthede op die veld kan skep,” het Laker gesê.

Stormers-toergroep:

Voorspelers: Hacjivah Dayimani, Ben-Jason Dixon, Joseph Dweba, Willie Engelbrecht, Connor Evans, Neethling Fouché, Deon Fourie, Brok Harris, Steven Kitshoff, JJ Kotze, Simon Miller, Marvin Orie, Junior Pokomela, Sazi Sandi, Marcel Theunissen, André-Hugo Venter en Ali Vermaak.

Agterspelers: Clayton Blommetjies, Angelo Davids, Paul de Wet, Dan du Plessis, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Suleiman Hartzenberg, Imad Khan, Manie Libbok, Stefan Ungerer, Damian Willemse en Leolin Zas.

Bepalings:

Sondag 8 Januarie om 17:00: Stormers teen Glasgow Warriors (Verenigde Rugbykampioenskap)

Sondag 15 Januarie om 15:00: Stormers teen London Irish (Kampioenebeker).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.