Stormers sonder Deon, Marvin teen Connacht

Die Stormers speel Saterdag in die halfeindstryd van die VRK-reeks teen Connacht. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers moes noodgedwonge twee veranderinge aan sy opdrafspan vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd teen Connacht op die DHL-stadion maak.

Deon Fourie en Marvin Orie sal die wedstryd met beserings misloop, terwyl Willie Engelbrecht en Ben-Jason Dixon nadergetrek is om die twee Springbok-spelers se skoene vol te staan.

“Dit is inderdaad teleurstellend om nie vir Deon en Marvin in die span te hê nie, maar ons is vol vertroue in hul plaasvervangers wat reeds hul waarde vir ons hierdie seisoen onderstreep het,” het John Dobson gesê.

Die Stormers se afrigter het vroeër ook gewaarsku dat die tuisspan nie sal kan bekostig om op hul louere teen die Ierse besoekers te rus nie.

“Ons kan selfversekerd wees, maar daardie selfvertroue moet nie as arrogansie geïnterpreteer word nie,” het hy gesê.

Steven Kitshoff en Ruhan Nel. (Foto: Hansie Linde.)

“Ons het baie respek vir Connacht se spankultuur en -waardes. Hulle gaan lê nie sommer nie, terwyl hulle ook baie goed op die aanval is. Terselfdertyd het hulle ook vir Ulster (in die kwarteindstryd) by die afbreekpunte laat les opsê.”

Evan Roos sal nou saam met Hacjivah Dayimani en Engelbrecht die lostrio vorm, terwyl Ruben van Heerden saam met Dixon in die lynstane sal rank.

Die Springbok-voorry van Steven Kitshoff, Joseph Dweba en Frans Malherbe sal oudergewoonte weer probeer om die grondslag vir die Kapenaars se gevaarlike agterlyn te lê.

So van Kitshoff gepraat – dit kan moontlik die Springbok-stut se laaste wedstryd vir ʼn hele ruk in ʼn trui van die Stormers wees. Hy het verlede jaar ʼn kontrak met Ulster onderteken om sy rugby in Ierland te speel.

“Dit is egter nog ʼn wonderlike geleentheid op die DHL-stadion en ons sal alles in ons vermoë doen om ons ondersteuners trots te maak,” het Dobson afgesluit.

Die wedstryd begin Saterdag om 16:00.

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Angelo Davids (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Hacjivah Dayimani (flank), Willie Engelbrecht (flank), Ruben van Heerden (slot), Ben-Jason Dixon (slot), Frans Malherbe (stut), Joseph Dweba (haker) en Steven Kitshoff (kaptein en stut). Plaasvervangers: JJ Kotze, Ali Vermaak, Neethling Fouché, Connor Evans, Marcel Theunissen, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis en Sacha Feinberg-Mngomezulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.