Stormers wen op Fort Loftus

Herschel Jantjies het een van die Stormers se drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Nadat die Pretorianers die afgelope Woensdag die Kaap met ’n klinkende Curriebeker-oorwinning blou geverf het, het die Stormers vandag die bordjies op Loftus Versfeld verhang.

Die Stormers het ’n interessante storielyn gevolg om by hul uiteindelike oorwinning uit te kom: Daar was die algehele oorheersing in die eerste helfte, ’n insinking in die tweede helfte en laastens die vreugde van Paul de Wet se drie in die 76ste minuut.

Skrumwerk lê dikwels die grondslag vir ’n goeie vertoning, en in die eerste 40 minute van die wedstryd het die Kapenaars ongetwyfeld die septer voorlangs geswaai.

Voeg daarby Manie Libbok se slim steekskoppies en Seabelo Senatla se blitsige afrondingswerk en die besoekers het kort voor lank ’n voorsprong van 18 – 0 op Fort Loftus geniet.

Maar geskiedenis leer ’n mens dat ’n fort se mure nie sommer val nie en die Bulls is meesters om hul veilige vesting te verdedig.

’n Stormers-geelkaart (Ernst van Rhyn) en Johan Grobbelaar se drie net voor rustyd het die momentum-pendulum weer in die Bulls se rigting geswaai. Skielik het hulle weer soos die span gelyk wie se trofeekas uit sy nate bars.

Die Bulls se Elrigh Louw op die oorlogspad. Foto: GB Jordaan.

Lizo Gqoboka en ander plaasvervangers het voorlangs vir die nodige standvastigheid gesorg, terwyl Morné Steyn altyd ’n kalmerende invloed het.

’n Rits goeie drieë – dankie Madosh Tambwe, Embrose Papier en Elrigh Louw – het beteken dat die tuisspan weer in beheer van die wedstryd was.

Totdat De Wet (danksy goeie werk deur Warrick Gelant en Damian Willemse) natuurlik weer in die doodsnikke die Pretoria-partytjie bederf het.

Die Stormers het inderdaad lekker rugby gespeel.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Seabelo Senatla (2), Herschel Jantjies en Paul de Wet. Doelskoppe: Manie Libbok (2). Strafskoppe: Libbok (2).

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar, Madosh Tambwe, Embrose Papier en Elrigh Louw. Doelskoppe: Chris Smith en Morné Steyn (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Ja nee wat. Fortjie omsingel, ingedring en oorgeneem. Dis nou wat gebeur wanneer die koppies te veel begin swel en allerhande tierlantyntjies soos wintie videos voor die tyd vrygestel word. Koop NOG, BETER spelers.

SjN ·

Hoekom word die beste spelers nie van die begin op die veld gestuur nie? Uitslag kan anders gewees het.

MAGRIETHA ·

Ek dink die bulle moet begin kyk na nuwe afrigter ,Jake het goeie spelers laat gaan daar verloor hul ook hul beste slotte einde 22 ,dan is daar n paar spelers wat nie da hoort nie ,kyk ma wat gebeur saterdag teen sharks

Boer ·

Hulle het mos die jong WP span pak gegee met hulle URC speler en het mos gedink die Stormers gaan maklik wees. Dit het die Stormers net gemotiveer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.