Die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) kon nie vir `n beter eerste ronde Saterdag in die Oos-Kaapse Super12-reeks vra nie, met al ses sy spanne wat wat hul teenstanders van die Grens-rugbyunie (GRU) getroef het – al was party seges net-net.
Een van die mees betekenisvolle uitslae was Gardens se oorwinning van 13-5 oor die verdedigende kampioen, Oos-Londen Polisie. Die telling dui op die Uitenhaagse span se vasbeslotenheid om vanjaar in die eindstryd te speel.
In die ander wedstryd in Groep B het Brumbies van Grahamstad sy klein afgesteek met `n stewige oorwinning van 27-12 oor Buffalo van Oos-Londen. Die wenspan het vier drieë vir `n bonuspunt gedruk.
Die naelskraapste seges was in Groep C waar Park (Port Elizabeth) en Trying Stars (Alexandria) elk met `n enkele punt gewen het. Park moes nat weer trotseer om die Walter Sisulu-universiteit (Potsdam) 18-17 te klop; en Trying Stars het aan `n sege van 33-32 teen `n gewillige Breakers (Queenstown) vasgeklou.
Progress het `n sterk boodskap aan sy teenstanders gestuur deur Winter Rose (Mdantsane) 77-0 op Uitenhage te looi. Spring Rose (New Brighton) het `n belangrike wegoorwinning van 22-12 teen Berlin Tigers aangeteken.
Die uitslae –
Groep A: Berlin Tigers 12, Spring Rose 22; Progress 77, Winter Rose 0.
Groep B: Gardens 13, Oos-Londen Polisie 5; Brumbies 27, Buffalo 12.
Groep C: Park 18, WSU 17; Trying Stars 33, Breakers 32.
(Berig deur die OPRU verskaf.)