Superrugby: Stormers kry die Blues op Nuweland

(Foto: @mssantamaria03/Twitter)

Hoe het Naas Botha nou weer gesê? Jy wen nie die Curriebeker in Mei nie.

Hoe sê die kwaadwilliges op Nuweland? Jy wen nie die Superrugbyreeks in Februarie nie.

Dit het die Stormers Saterdag tot hul spyt agtergekom toe hulle met 33-14 deur die Blues geboelie en oorheers is nadat hulle rustyd reeds met 14-27 agter was.

Hulle is hard teruggebring aarde toe, veral nadat hulle die reeks met vier oorwinnings oor die Hurricanes (27-0), Bulls (13-0), Lions (33-30) en Jaguares (17-7) afgeskop het.

Saterdag was hulle bloot papiertoere, sonder veggees, sonder ʼn wedstrydplan en powere verdediging.

Gaan kyk maar na die statistieke: Die Stormers het net 198 meter met die bal gevorder, die Blues 445 meter.

Die Stormers het die bal net 67 keer gedra, die Blues 121.

Die Stormers het net agt verdedigers geflous, die Blues 36.

Die Stormers het 135 duikslae uitgevoer, waarvan hulle ʼn allemintige 36 gemis het. Die Blues het net 66 keer verdedig, en net agt duikslae gemis.

Die Stormers se veelgeroemde skrum kon nie veel hond haaraf maak nie, hul ondernemende agterspelers soos Herschel Jantjies, Damian Willemse, Seabelo Senatla en Dillyn Leyds kon skaars oor die voordeellyn kom.

Dalk is dit die regte medisyne vir die afrigter John Dobson om die spelers oor die kole te haal, om hulle Maandag weer en weer na die video te laat kyk.

Hy hou mos daarvan om geen doekies om te draai nie, om kaalvuis in te klim.

Vergeet van die Webb Ellis-trofee, vergeet van die weeklange heldeverering op oop busse. Vergeet van enige moontlike Superuitspeelwedstryd. Trek op jul sokkies, die toer na Australië en Nieu-Seeland lê nog voor.

Die Blues het verras, hulle het gespeel soos in die dae toe Graham Henry hulle nog afgerig het, toe hulle die Superreeks oorheers het. Hulle was gedissiplineerd, het hul lywe vir mekaar op die spel geplaas, die bal nooit wild en wakker weggegee nie en aanhou hardloop.

Alles is glad nie verlore vir die Stormers nie, dit was dalk net die regte wekroep. Daar sal veranderings gemaak moet word, een of twee koppe sal moet rol, die moue sal opgetrek moet word.

Maar, dis hoe jy sterker na vore tree. Om te besef dat jy net so goed soos in die vorige wedstryd was.

 Punte: Stormers: 18 Drieë: Sergeal Petersen, Juarno Augustus. Doelskoppe: Damian Willemse (2).

Blues 33: Drieë: Joe Marchant (2), Dalton Papali’i. Doelskoppe: Otere Black (3). Strafdoele: Black (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.