SWD-liga: kampioen kry weer slae

Barbarians mosselbaai - logoDie Suidwestelike Distrikte se Premierligakampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, het Saterdag die tweede keer vanjaar slae gekry.

Ondanks Mosselbaai Barbarians se sege van 46-24 is die titelhouer redelik veilig boaan die punteleer met 52 ligapunte. Barbarians se oorwinning plaas hom tweede met 39 punte nadat hy vier van sy wedstryde verloor het.

`n Taai stryd lê voor om die ander twee plekke in die halfeindstryd te vul. Blanco (32), Progress (31), Bridgton (30), Crusaders (29), Groot-Brakrivier (29) en Silver Stars (27) is almal goed geplaas om die boonste vier te haal.

In die naweek se ander verrassing het Silver Stars vir Groot-Brakrivier 30-27 geklop.

Blanco het 34-16 met Bridgton afgereken; en Crusaders het Swellendam 62-12 gelooi.

Demi Rhoode, die wedstrydsekretaris van Groot-Brakrivier, berig die kragmeting teen Silver Stars was taai, maar is in `n goeie gees gespeel.

“Groot-Brak het vroeg in die wedstryd twee drieë geruk, maar Stars het teruggeveg en uiteidelik net-net gewen.”

groot-brakrivierCheslyn Gelderbloem (buitesenter), Branville Abrahams (agsteman), Bennie van Vuuren (slot) en Ruben Loxson (regtervleuel) het elk `n drie vir Groot-Brak gedruk. Deroy Rhoode (losskakel) het een verdoel en Arden-Lee Meyer (skrukskakel) het `n doelskop en `n strafdoel oorgeklits.

Gelderbloem is as die speler van die wedstryd aangewys.

Groot-Brak se tweede span het 24-6 gewen.

André Windvogel (linkervleuel) het twee drieë en Jovayn Buys (slot) en Stefhan Muller (haker) elkeen een gedruk. Hugh Minnies (buitesenter) het drie doelskoppe behaal.

Rhoode berig Groot-Brak het ook die derdespanwedstryd 16-13 gewen.

David Smith (agsteman) en Duran Oktober (vaskopstut) het elkeen `n drie gedruk. Cody Cairncross (losskakel) en Estiacq Geldenhuys (plaasvervanger-skrumskakel) het elk `n strafdoel behaal.

Dysselsdorp Rangers klop Gamka Calitzdorp

Dysselsdorp het Saterdag die span van Gamka op Calitzdorp oortuigend 36-3 in die Karooliga verslaan. Die rustydtelling was 12-3 in die besoekers se guns.

dysseldorpAndries Jacobs, die sekretaris van Dysselsdorp, sê die deurbraak het in die tweede helfte gekom toe die ervare stut David Coerecius sy verskyning op die veld gemaak het .Hy het met sy stormlope die Gamka-manne hoofbrekens besorg. Hy het op die koop toe n drie gedruk.

Ander uitblinkers voorlangs vir Dysselsdorp was Denzil Oktober (haker), Shivandre Briekwa (flank) en Eric Campher (agtsteman).

Tussen die agterspelers het Deiderick Booysen (senter) en Davestine Esau puik vertoon.

Campher, Granville Pedro (vleuel), Ben Gertse (losskakel), Sherwin Schoeman (skrumskakel) en Oktober (haker) het Dysselsdorp se ander drieë gedruk. Esau het twee en Gertse een verdoel.

Dysselsdorp speel eerskomende Saterdag in Oudtshoorn teen Adias.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.