‘Thor’ is die kaptein in Pretoria

Duane Vermeulen. Foto: ANA

Een van die sterkste spelers in wêreldrugby en die man wat deur talle ondersteuners as een van die groot leiers in die Springbokkamp gedurende verlede jaar se suksesvolle Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan beskou word, Duane Vermeulen, is vanmiddag as die Bulls se nuwe kaptein aangewys.

Die 34-jarige losvoorspeler is die eerste Pretoriase kaptein in die Jake White-era.

Hy het onder meer eersterangse ondervinding saam met die Pumas, Cheetahs, Stormers en Toulon opgedoen, terwyl hy die Bokke verlede jaar in Siya Kolisi se afwesigheid teen Nieu-Seeland gelei het.

Die Nelspruit-boorling het egter ook al gewys dat hy ’n speler vir die groot oomblik is: Sy briljante aangee het in 2015 vir Fourie du Preez in die Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Wallis weggestuur, terwyl hy gedurende verlede jaar se eindstryd as die speler van die wedstryd aangewys is.

Die Bokke het toe vir Engeland met 32–12 geklop en Vermeulen het ’n barshou gespeel. Hy het onder meer 49 m met die bal gevorder, terwyl hy twee keer omgekeerde besit bewerkstellig het.

Hy word ook op die internasionale verhoog gerespekteer – die voormalige Kiwi-agtsteman Nick Williams het gesê dat Vermeulen die taaiste teenstander was teen wie hy in sy loopbaan gespeel het.

Duane Vermeulen. (Foto: GB Jordaan).

“Duane is ongetwyfeld een van die sterkste manne teen wie ek gespeel het,” het Williams aan Wales Online gesê.

Vermeulen sal nou die kapteinsleisels by Burger Odendaal oorneem nadat die sterk senter groener weivelde by die Lions gaan soek het.

Toe hy verlede jaar die Bokke in Wellington op die veld gelei het, het hy gesê dat hy as kaptein ’n goeie voorbeeld wil stel.

“Diegene wat my ken, weet dat ek net eenvoudig mal daaroor is om rugby te speel; ek is nie een vir lang en uitgerekte toesprake nie,” het hy destyds gesê.

In die Covid-19-era en met verskeie spelers – onder wie Handré Pollard, Odendaal, Warrick Gelant en Manie Libbok – wat hul heil elders gaan soek het, is ’n sterk leier op Loftus Versfeld belangriker as ’n spreker wat tot die eindstryd van ’n redenaarskompetisie deurgedring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

twaalfboor ·

Oooooo ê êh…… ek sien weer ñ politieke inmenging wat kom oor die kaptein nie HDI is nie.

MakersMark ·

100% waar, en Pollard sy nr 2. Hulle het op die veld gedink en gelei. Veral as kwota na 50 min moes lafenis soek op die bankie in ‘n harde wedstryd.

Louise ·

Ek is nou wel nie nie groot Bulls ondersteuner nie, maar die passie wat hy het vir die spel maak hom ‘n ware kaptein.

koos10 ·

Ek het niks teen Duane nie, maak ek wens die malgeit om kapteine aan te stel voordat ‘n span bekend gemaak word moet stop.
Soos dit nou gaan is die kaptein is verseker van sy plek in die span, ongeag wat gebeur. Ons het dieselfde gesien toe John Smit die Bokke se kaptein was en die beste hakker moes op die kantlyn sit.

Stel jou span saam en wys die beste kaptein dan uit die groep aan. Ja, Duane sal dan heel moontlik die kaptein wees, maar wie weet, miskien is daar ‘n 20 jarige speler wat oor al die vaardighede beskik, om ‘n nuwe Francios Pienaar te wees, en nie die geleendheid kan kry nie?

Any case, Suid Afrikaanse rugby het my al ‘n rukkie terug verloor.

Kokkie ·

Oor hierdie aangeleentheid stem ek eenhonderd persent saam met jou, Koos. Waar dit baie erg ge-backfire het, was met die 2015 wêreldbeker in Engeland. Hoewel Jean de Villiers ‘n soort van invalide was en nooit na daardie toernooi moes gaan nie, het Heineke Meyer lank vóór die kies van die span gesê dat hy die enigste seker keuse was. Die res van die verhaal, ook die skandelike nederlaag teen Japan , is ou nuus.

Niklaas ·

Ek is oortuig daarvan dat hy die beste keuse is. Hy is oral gerespekteerd. Duane moes eintlik laasjaar die wereldbeker gelig het .

Androclus ·

Ja nou kan die Noord Transvalers weer speel soos altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.