Tuiswaters wink darem vir sukkelende Sharks

Die Sharks se John Plumtree. (Foto: Twitter/Sharks)

Laat ons nie doekies omdraai nie: Die Sharks is tans besig om met spartelvertonings in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) vorendag te kom.

Dit is nie soseer die vier agtereenvolgende nederlae wat vir die wrangste smaak in die mond sorg nie – dit is veel eerder die wyse waarop hulle verloor wat ondersteuners na die boegoebrandewyn laat gryp.

ʼn Mens het verwag dat hulle teen Munster en Leinster gaan sukkel, maar om die onderspit teen die sukkelende Ospreys en die gewoontehoutlepelswaaiers Zebre te delf?

Haai, nee man.

Die afgelope naweek op die Stadio Sergio Lanfranchi was dit skeidsregter Peter Martin se skril fluitjie wat die Sharks die seerste teen Zebre gemaak het. ʼn Spul strafskoppe en kaarte (geel én rooi) het tot die besoekers se nagmerrievertoning bygedra.

Om dinge vinnig in perspektief te plaas: Zebre se uiteindelike oorwinning van 12 – 10 was die Italianers se eerste oorwinning in amper 30 probeerslae.

Nee man.

“Ons kon ten minste ʼn wedstryd of twee op die toer gewen het. Maar dit het nie gebeur nie,” het afrigter John Plumtree gesê.

Gelukkig is die Sharks nou weer terug in meer bekende waters: Twee tuiswedstryde op Kingspark (teen Connacht en die Dragons) en twee derby-wedstryde (teen die Bulls en Lions) sorg darem, soos wat Joshua na die Reën sou sê, vir ʼn tikkie lig op die horison.

“Ons is opgewonde om weer by die huis te wees. Ons gaan die hersetknoppie druk en baie hard werk om nie net momentum op te bou nie, maar ook om te verbeter.”

Sharks se jongste uitslae:

Munster 34 – 21 Sharks

Leinster 34 – 13 Sharks

Ospreys 19 – 5 Sharks

Zebre 12 – 10 Sharks

Komende bepalings:

18 November: Sharks teen Connacht op Kingspark

25 November: Sharks teen Dragons op Kingspark

2 Desember: Sharks teen Bulls op Loftus Versfeld

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Swak werwing is die oorsaak. Hoeveel Springbokke het julle die afgelope paar jaar gekoop en hoeveel speeltyd het julle uit hulle ontvang? Ek glo nie die somme klop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.