Tweede hofskok ruk Oos-Kaapse spogreeks

ʼn Tweede hofskok het die Oos-Kaapse Super 12-reeks, die toonvenster van klubrugby in dié provinsie, Saterdag tot stilstand geruk.

Enkele ure voor die afskop van die eindstryd het die Oos-Kaapse afdeling van die Hoë Hof ʼn bevel in Port Elizabeth uitgereik wat ʼn stokkie daarvoor gesteek het.

In opvolging van ʼn aansoek wat deur die klub Progress van Uitenhage gebring is, het die hof beveel dat die beplande wedstryd tussen Gardens van Uitenhage en Oos-Londen Polisie uitgestel word totdat die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) en die Super 12-reëlingskomitee van die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur (DSOKK) ondersoek ingestel het na ʼn reëloortreding deur Gardens, en die nodige en gepaste stappe kragtens die OPRU se grondwet en die natuurreg gedoen het.

Die reëlingskomitee en Gardens moet die koste van die aansoek dra, het die hof beslis.

Gardens, die verdedigende Super 12-kampioen, het Progress in die halfeindronde met 21-20 geklop.

Die aard van Progress se beswaar is nie bekend nie.

Gardens het vroeër self ʼn hofbevel verkry om die halfeindstryd te stuit nadat ʼn geskil oor die beweerde onregmatige gebruik van ʼn speler deur Spring Rose (New Brighton) tot gevolg gehad het dat punte by Rose weggeneem en aan Park gegee is. Dit sou Gardens uit die halfeindstryd hou.

Dié geskil is uiteindelik in Gardens se guns besleg en die halfeindronde het twee weke laat plaasgevind.

Die topklubs van die OP en Grens neem deel aan die reeks wat deur die DSOKK geborg en onder die beskerming van die provinsiale sportkommissie aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.