Twee spelers met Suid-Afrikaanse wortels het Saterdag in Amerika elk twee drieë vir die Austins Huns in die Senior Rugbyliga gedruk.
Die Huns, wat deur die Suid-Afrikaanse afrigter Eugene (Loffie) Eloff afgerig word, het met 59-37 teen ʼn Utah-vyftiental gewen.
Deon Minnaar en Martin Knoetze het elk ʼn tweekuns vir die Huns behaal, en Zinzan Elan-Puttick het met ses doelskoppe geslaag.
Minnaar is ʼn losvoorspeler en ʼn oudleerling van die Hoërskool Montana in Pretoria; Knoetze, ʼn driekwart, is in Pretoria gebore, en sy pa, Martin sr, het Curriebekerrugby in Suid-Afrika en toetsrugby vir ʼn Wêreldspan teen die All Blacks gespeel; en die veelsydige agterspeler Elan-Puttick is ʼn oudleerling van Greykollege in Bloemfontein.
Volgens Utah se Facebook-werf was dit ʼn “verwoede” kragmeting, en al het Utah sy beste vertoning van die seisoen gelewer, het die meer ervare Huns in die tweede helfte die oorhand gekry.
Die Utah-vyftiental is saamgestel uit die topklubspanne van dié deelstaat.
Ben Nichols, die span se buitesenter en hulpafrigter, is ʼn gewese Tukkie, wat sewesrugby vir die Blou Bulle gespeel het.
♦ Die Senior Liga is ʼn proeflopie vir ʼn nuwe Amerikaanse beroepsliga, geskoei op bestaande klubs, wat vir aanstaande jaar in die vooruitsig gestel word.
Die Huns en Utah tel tussen die spanne wat voornemens is om daaraan deel te neem.