Uitdaagbekerreeks: Lions verloor, maar jonges brul hard teen Montpellier

Andries Coetzee tydens ‘n vorige wedstryd (Foto: GB Jordaan)

Een van enige rugbyspan se grootste bates is wanneer hy diepte het en sy naasbestes netso flink vertoon as sy beste spelers.

Dit het die Lions se naasbestes Saterdagaand in die Stade Yves-du-Manoir in Montpellier gewys toe hulle met 13-3 deur die sterbelaaide Montpellier in die Europese Uitdaagbeker-reeks geklop is.

Ironies het Montpellier drie Springbokke (Jan Serfontein, Cobus Reinach en Nicolaas Janse van Rensburg) in sy opdrafspan gehad, terwyl die Lions slegs met een Springbok, Andries Coetzee gespog het wat in 2017 laas vir die Springbokke gespeel het.

Maar die Lions se jonges het nie gaan lê nie en enduit bly veg.

Hulle het Montpellier soms in die skrums laat knor, hulle het die tuisspan opdraande in die lynstane gegee en met hul opskietverdediging die tuisspan agter die voordeellyn gewurg.

Montpellier (14 punte) is danksy dié oorwinning drie punte voor Benetton (11 punte) op die puntelys, met die Lions in die derde posisie op nege punte saam met die Walliese Ospreys.

Die Lions speel juis komende Sondag op Ellispark teen die Ospreys, maar ongeag dié uitslag, spog albei spanne reeds met genoeg ligapunte om as een van die voorste vier spanne in hul groep tot die uitkloprondes deur te dring.

Die Lions het Montpellier al hul dae in die eerste helfte besorg.

Hulle het die tuisspan, wat besit oorheers het en gebiedsvoordeel geniet het, in foute gedwing. Dit was veral Hanru Sirgel, JC Pretorius, Izan Esterhuizen, Etienne Oosthuizen, Conraad van Vuuren en Callie Visagie wat die Franse se besit by die afbreekpunte stadig gemaak het.

Agterlangs was Coetzee, Boldwin Hansen, Stean Pienaar, Erich Cronjé en Nico Steyn vol energie en ondernemingsgees.

Montpellier, wat rustyd met 0-3 agter geloop het, het van hul swaargewigte soos die Franse slot Paul Willemse ná rustyd opgestuur en dit het ʼn reuseverskil gemaak.

Drieë deur die senter Geoffrey Doumaroy en Willemse, asook ʼn strafdoel deur die Italiaanse toetslosskakel Paolo Garbisi, het aan Montpellier sy oorwinning besorg.

Die Lions het kort voor die einde byna ʼn bonuspunt met ʼn laaste drie verower, maar ʼn vurige Pretorius het bottervingers gehad met die doellyn wat gewink het.

Ondanks die nederlaag kan die Lions hul koppe hoog hou.

Ja, daar was baie foute en soms verkeerde besluitneming, maar dit was nie maklik om laataand in ʼn yskoue Montpellier die tuisspan te pak nie.
Steeds het die Lions teen die einde nog hard gebrul.

Puntemakers: Montpellier 13 (0): Drieë: Geoffrey Doumayrou, Paul Willemse. Strafdoel: Paolo Garbisi.

Lions 3 (3): Strafdoel: Jordan Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.