Uitkloprugby op sy beste

Springbok RG Snyman gryp die bal tydens ‘n lynstaan teen die Franse. (Foto: Twitter/ Sprinboks)

Wat ʼn naweek vir wêreldrugby! Die vier spannende kwarteindstryde is die beste advertensie vir ʼn sport wat met tye skerp gekritiseer is vir ingewikkelde reëls en stampkar-rugby, met meer skrums en lynstane as hardlooprugby. Die naweek se gebeure in Frankryk het waarskynlik ʼn hele spul nuwe aanhangers vir die spel gewen.

Hoewel die Bokke die kroon gespan het op ʼn dramatiese naweek, kan ʼn mens nie verby die ander stryde kyk nie. Daar is al baie gepraat oor die skuif in die krag van rugby na die noorde. Argentinië, die All Blacks en die Springbokke het gewys daardie aanname is dalk te vinnig gemaak. Drie spanne van die Rugbykampioenskap is in die halfeindstryde en Engeland is die enigste span uit die Sesnasies wat oorbly. Dis natuurlik debatteerbaar of Engeland daar hoort, maar dis nou maar hoe die loting uitgewerk het.

Die Argentyne het reeds Saterdag gewys wat vasbyt-rugby kan vermag deur Wallis 29-17 te klop. Wallis was futloos in die aanloop tot die toernooi, maar het gewys waarom hulle in ʼn stadium een van die topspanne was. Net soos verskeie van die ander halfeindstrydspanne gaan die Suid-Amerikaners ook ʼn hele spul sterspelers verloor na die toernooi. Hulle sal op gepaste wyse wil afskeid neem teen die All Blacks.

Sam Cane se span het gewys waarom die Nieu-Seelanders nooit afgeskryf kan word nie. Hulle opwaartse kurwe duur voort en dit voorspel niks goeds vir die Bokke in ʼn moontlike eindstryd nie. Soos in die Bokke se stryd teen die Franse, het die All Blacks en Ierland hul beste houe geplant, maar die uitklophou wou net nie kom nie. Dit was die Nieu-Seelanders wat uiteindelik met 28-24 staande gebly het.

Engeland sal vandag hulle wonde lek na ʼn uiters fisieke botsing met Fidji. Die eilandmanne kan trots wees op wat hulle bereik het en dit gee hopelik momentum aan nog groter dinge. Hou hulle beslis dop in die volgende Wêreldbekertoernooi in 2027 in Australië. Verskeie van Engeland se spelers het maar bra vuisvoos gelyk al het hulle Fidji 30-24 geklop.

Die Springbokke vier hulle oorwinning oor Frankryk. (Foto: Twitter/ Rugby World Cup)

Nou wag die Engelse vir die halfeind teen die Bokke – dieselfde span wat hul harte gebreek het in 2019 in Japan.

Oor die Bokke se oorwinning van 29-28 teen die Franse is al die byvoeglike name al opgebruik. Manjifiek is een van daardie woorde wat die deursettingsvermoë en vasbyt van Siya Kolisi se span beskryf. Dit het met tye gelyk of die gasheer hulle deurmekaar gaan hardloop, maar daar was altyd ʼn Bok in die pad. Eben Etzebeth en Jesse Kriel was reuse op die verdediging, maar jy gaan sukkel om sleg te praat van een van die manne in die Groen-en-goud. Wat ʼn blou Maandag vir Bok-ondersteuners kon wees na ʼn laataand-wedstryd, het verander in ʼn groen-en-goud-Maandag, met die vooruitsig van nog drama wat kom.

Met die eerste plaasvervangers wat na net 50 minute opgestuur is, was daar waarskynlike menige ondersteuner wat gewonder het of dit die regte besluit was. Daar was in ʼn stadium ʼn paniekerigheid in die Bokke se spel, maar die senior spelers soos Duane Vermeulen het kalmte gebring en daar was weer ʼn draai in die momentum. Die opstuur van Deon Fourie en Kwagga Smith was ook ʼn meesterskuif om die afbreekpunte beter te bestuur.

Dis juis daardie momentum wat nou gekoester moet word. Taai, uitmergelende toetse op opeenvolgende naweke gaan sy tol eis. Nou is dit kondisionering, strategie en genoeg hersteltyd wat die deurslag gaan gee. Die fisioterapeute werk vandag waarskynlik oortyd om die manne reg te vryf. Die mense aan die ander kant van Rassie Erasmus se mikrofoon kan waarskynlik ook doen met ʼn blaaskans. Dit het gelyk of hy met tye ʼn hartaanval gaan kry soos hy instruksies skree.

Die Bokke sal ook wil skaaf aan ʼn paar dinge hierdie week. Daar was ʼn paar flaters by die lynstane wat aandag nodig het. Dit het ook gelyk of die Bokke sukkel met besluitneming nadat Kolisi vervang is en Bongi Mbonambi by hom oorgeneem het. Daar was reeds voor en tydens die toernooi kritiek oor die Bokke se afronding. Daar was weer ʼn paar verlore kanse in die Franse kwartgebied wat die Springbokke duur te staan kon kom.

Binne die groter konteks, is dit dingetjies wat reggestel kan word. Wat die deurslag gaan gee, is die karakter van die span wanneer die groot oomblikke aanbreek. En die manne in die Groen-en-goud het gewys hulle het die karakter, deursettingsvermoë en vasbyt waarop ons as Suid-Afrikaners uiters trots kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Nou moet ons nie verder kyk na die groot eindstryd dag op 28 Oktober nie. Eerder konsentreer op Engeland volgende naweek , wat wraak gesweer het op die Bokke oor vorige wereldbeker verloor skandes teen die groen span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.