Ulster, beseringspook kniehalter Stormers

Evan Roos. Foto: Hansie Linde.

Ulster het gisteraand op die Kingspan-stadion in Belfast die Stormers met 35–5 geklop, maar die Kapenaars is sleg deur ʼn spul beserings ontwrig.

JJ Kotze (haker), Evan Roos (agtsteman) en Jean-Luc du Preez (losskakel) het almal in die eerste helfte van die wedstryd beserings opgedoen. Junior Pokomela en Clayton Blommetjies is ook in die aanloop tot die wedstryd aan die span onttrek.

Roos het die veld in trane verlaat nadat hy ʼn rukkie vantevore hardhandig deur Nick Timoney en Duane Vermeulen by ʼn losskrum uit die pad geboender is.

John Dobson het ná afloop van die wedstryd gesê dat die 23-jarige losvoorspeler dalk vir ʼn hele ruk op die krukkelys sal wees.

“Dit is sy knieligamente. Ek is wel nog nie seker van die graad of omvang van sy besering nie, maar ek is bevrees dat Evan vir ʼn ruk buite aksie kan wees. Dit is beslis nie ʼn geringe besering nie,” het die Stormers-afrigter gesê.

Roos is ongetwyfeld een van die opwindendste rugbyspelers in Suid-Afrika en hy is verlede jaar as die Verenigde Rugbykampioenskap se speler van die seisoen aangewys, terwyl hy ook sy Springbok-buiging teen Wallis gemaak het.

“Ek hoop net nie dat hierde besering ʼn invloed op sy Springbok-drome het nie.”

Die Stormers is steeds tweede op die VRK-punteleer met 45 punte, maar Ulster (43 punte) blaas in die span se nek.

  • Puntemakers:

Ulster: Drieë: Nathan Doak, Ben Moxham, Nick Timomey, Jeffrey Tomaga-Allen en Mike Lowry. Doelskoppe: Doak (4) en John Cooney.

Stormers: Drie: Andre-Hugo Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.