Video: Damian gou weer op die been

Van links: Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, Siya Kolisi, Springbokkaptein, en Jacques Nienaber, Springbokafrigter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

SA Rugby se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, is vol moed dat Springbok-losskakel Damian Willemse volgende week weer op die been sal wees.

Dit is goeie nuus vir die Springbokspan wat nog ʼn week gelede met ʼn groot losskakel-kopseer gesit het.

Manie Libbok is die enigste fikse no. 10-speler in die oefengroep, terwyl Handré Pollard en Willemse op die krukkelys is.

Elton Jantjies is juis na die oefenkamp in Pretoria opgeroep sodat Pollard-hulle voldoende tyd het om ten volle te herstel.

“Ons wil nie vir Handré en Damian in ʼn blik druk om reg te wees vir die eerste toets teen Australië nie. Hulle moet heeltemal gesond word sodat hulle gereed is vir die Wêreldbeker,” sê Erasmus.

Van links: Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, Siya Kolisi, Springbokkaptein, en Jacques Nienaber, Springbokafrigter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Hopelik het ons binne twee weke vier losskakels.”

Op die vraag oor waarom Jantjies vir die span gekies is, sê Erasmus dit is omdat hulle vertroue in hom as “veteraan-losskakel” het.

“Elton het homself reeds as losskakel bewys toe hy as Suid-Afrika se Superrugbyspeler van die dekade aangewys is. Hy was ook deel van die Wêreldbeker-wenspan van 2019. Hy ken die strukture en ons hoef hom nie ʼn klomp goed te leer nie.”

Nienaber wou nog nie veel uitlap oor die Wêreldbeker-groep nie.

“Ons het ʼn goeie idee wie saamgaan, maar daar moet nog baie water in die see loop.”

Volgens die Springbok-afrigter is die energie in die oefenkamp goed, terwyl die spelers in die span se vermoë glo om die Wêreldbeker-titel suksesvol te verdedig.

“Daar is nog nie veel druk op hul skouers nie, maar dit sal verander wanneer die toetse begin.”

In terme van voorbereiding sê Nienaber die span is nog nie “die afgeronde produk nie” en dat daar “nog baie werk gedoen moet word”.

Kolisi in goeie luim

Van links: Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, Siya Kolisi, Springbokkaptein, en Jacques Nienaber, Springbokafrigter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Springbok-kaptein Siya Kolisi was Dinsdag in goeie luim oor die herstelpad ná sy knie-operasie en sê hy sien uit daarna om weer terug op die veld te wees.

Kolisi het einde April ʼn knie-operasie ondergaan en is sedertdien in intensiewe rehabilitasie in die hoop om volkome te herstel voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat in September en Oktober in Frankryk plaasvind.

“Ek voel goed en my rehabilitasie vorder goed,” het Kolisi Dinsdag gesê.

“Ek het hard gewerk om so goed moontlik te herstel en dit is wonderlik om dit in die spanomgewing te kan doen. Sommige van die spelers het my ook gehelp, so ek neem dinge dag vir dag. Dit help ook om soveel ondersteuning van die afrigters te kry.”

  • Die Springbokke se eerste toets van die 2023-seisoen is op 8 Julie teen Australië op Loftus Versfeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.