VRK-kaliber rugby dalk nie Bokke se voorland

Die Stormers se Seabelo Senatla duik oor vir ’n akrobatiese drie in die VRK-reeks. Foto: Hansie Linde.

Suid-Afrikaanse spanne het met hul driedrukvermoë in die afgelope Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) beïndruk. Van die Stormers en die Bulls tot die Sharks en die Lions het by tye hul oorsese teenstanders laat bontstaan.

Tog meen Wayne Pivac dat die Springbokke nie noodwendig ’n soortgelyke aanvalskoers in die komende toetsreeks teen Wallis sal inslaan nie.

“’n Mens moet dinge in perspektief plaas – wat op provinsiale vlak vir ’n span werk, werk nie noodwendig in die toetsarena nie,” het die afrigter van die Rooi Drake gesê.

Hy glo ook dat die Suid-Afrikaners nie sommer van hul bewese verdedigingswedstrydplan sal afwyk nie.

“Wanneer jy die wêreldkampioenspan is, teen die beste ter wêreld speel en boonop nog ’n suksesvolle wedstrydplan volg, sal dit malligheid wees om daaraan te karring.”

Tog het hy erken dat die aanvallende vermoëns van die Suid-Afrikaanse spanne in die VRK-reeks vir indrukwekkende kykstof gesorg het.

“Die bal is goed van speler na speler beweeg en daar was werklik ’n paar briljante drieë. In die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi sal ons ’n ogie op Suid-Afrika se aanvalsvermoë hou. Ja, dit was opwindend om te sien, maar sulke dinge maak nie altyd die sprong na internasionale rugby nie.”

Hy het bygevoeg dat Wallis nie sal kan bekostig om konsentrasie teen die Springbokke te verloor nie.

“Ons het nie sleg teen Frankryk in die afgelope Sesnasiesreeks gespeel nie. Ons sal nou op daardie vertoning moet voortbou en vir die volle 80 minute van die wedstryd moet speel.”

Selfs al sukkel Wallis in die aanloop tot die reeks, meen Jacques Nienaber dat die Springbokke nie hul teenstanders moet onderskat nie.

“Wallis speel altyd fisieke rugby – hulle is sterk voorlangs, goed afgerig en takties slim. Hulle het ook die vorige keer dat ons teen hulle gespeel het, goed geskop en ons was in ons helfte van die veld vasgepen. As jy na die onlangse geskiedenis van ons wedstryde teen hulle kyk, glo ek dat die komende reeks ’n taai storie kan wees,” het die Springbok-afrigter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Wel, die Bokke kan darem wragtig ook meer aanskoulike rugby speel, ons het die spelers. En veral teen ‘n span soos Wallis kan jy maar bietjie die hare los laat. Maar ons sal seker weer die up and under geskoppery sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.