VRK: Lions groet een van hul maanhare met sege oor Zebre

(Foto: GB Jordaan)

Die Lions het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld op gepaste wyse van een van hul groot maanhare, Jaco Kriel, in die Verenigde Rugbykampioenskap afskeid geneem toe hulle die Italiaanse Zebre-span met 50-38 geklop het.

Die Lions het agt drieë vir Kriel as afskeidsgeskenk gegee, waarvan hy een gedruk het.

Vir 15 jaar en 170 wedstryde vir die Lions (en Leeus) was Kriel altyd aan die voorpunt.

Hy het net in 11 toetse gespeel, asook vir die Kubota Spears in Japan en Gloucester in Engeland, maar vir geen ander Suid-Afrikaanse span nie, want sy bloed was altyd bloedrooi.

(Foto: GB Jordaan)

Toe die eindfluitjie Saterdag geblaas het, is hy skouerhoog deur twee van sy jare lange spanmaats, Ruan Dreyer en Willem Alberts, opgelig en afgedra. Dit terwyl sy spanmaats asook die Zebre-spelers hulde aan een van die legendes van Leeu-rugby gebring het.

Die Lions het met dié oorwinning na negende op die puntelys opgeskuif en kan terugkyk op ʼn seisoen wat soms baie opwindend was en baie belofte getoon het, maar ook teleurstellend was.

(Foto: GB Jordaan)

Die groot vraag is hoe die pad vorentoe daar gaan uitsien.

Gaan die Lions nou van hul beste spelers vrystel om vir die Leeus se Curriebekerspan te speel? Gaan die franchise voortbou op van hul suksesse in die VRK-reeks?

Die hoogtepunte was drie opeenvolgende oorwinnings aan die begin van die seisoen oorsee teen die Ospreys, Cardiff en Edinburg, opgevolg met ʼn naelskraapse verloorslag van 37-39 teen Ulster.

(Foto: GB Jordaan)

Maar gaan die Lions die juk van middelmatigheid afskud wanneer teen hulle die Sharks, Stormers en Bulls speel?

Daar is borrelende talent, soos Quin Horn, Edwill van der Merwe, Marius Louw en Sanele Nohamba agterlangs.

Tussen die voorspelers was Kriel saam met Francke Horn, Willem Alberts, Ruben Schoeman en Asenathi Ntlabakanya altyd aan die voorpunt.

Puntemakers:

Lions 50: Drieë: Sanele Nohamba (2), Edwill van der  Merwe (2), Jaco Kriel, Quin Horn, Rhynhardt Rijnsburger, Andries Coetzee. Doelskoppe: Nohamba (5).

Zebre 38: Drieë: Simone Gesi (3), Jacopo Trulla, Juan Ptinari. Doelskoppe: Tiff Eden (2). Strafdoele: Eden (2).

(Foto: GB Jordaan)

(Foto: GB Jordaan)

(Foto: GB Jordaan)

(Foto: GB Jordaan)

(Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.