VRK-reeks: Lions se welpies nou hardebaarde

(Foto: Twitter / Lions Rugby)

Dis nie elke oud-rugbyspeler wat ook ’n suksesvolle afrigter is nie.

Maar in die geval van die oud Leeus-agterspeler Jaque Fourie is daar raakgevat, want saam met die res van die Lions se afrigtingspan is daar ʼn groot omwenteling in die Verenigde Rugbykampioenskap.

Die Lions het Vrydagaand in die DAM Health-stadion langs Murrayfield in Edinburg op ʼn sintetiese G4-oppervlak hul derde opeenvolgende oorwinning op toer behaal toe hulle Edinburgh met 22-19 geskok het.

Nadat die Lions ook oorwinnings oor die Walliese Ospreys (28-27) en Cardiff Rugby (31-18) op toer behaal het, keer hulle met sterte in die lug terug huis toe.

Toe die Lions sowat ʼn maand gelede met 31-15 in hul eerste kragmeting in vanjaar se reeks deur die Bulls geklop is, was daar tog ʼn hele paar opflikkerings.

Ja, hulle is voorlangs effe geboelie, maar daar was toe reeds tekens dat Francke Horn, Reinhardt Nothnagel, PJ Botha en Sithembiso Sithole wasdom bereik het en saam met die Smith-broers, Ruan en Jean-Pierre, Jaco Visagie en Emmanuel Tshituka nie meer gaan terugstaan nie.

Wat Vrydagaand veral die oog getref het, was die verdediging van die Lions, waar die oud-Boklegende Jaque Fourie die toutjies trek.

Verlede seisoen het hulle 55 drieë afgestaan en net 48 gedruk.

Die Lions verdedig nou met passie, hul houding is reg en hoewel Vrydagaand se statistiek daarop dui dat hulle 31 duikslae verbrou het, is dit misleidend, want daar was bitter min deurkomkans vir Edinburgh.

Was dit nie vir die dartelende Darcy Graham wat sekerlik 10 tot 15 teenstanders met sy flink systappe geklop het nie (maar nie ʼn drie kon druk nie), sou die statistieke baie anders daar uitgesien het.

Die Lions, wat verlede seisoen 408 punte aangeteken het en 450 afgestaan het, het dié seisoen reeds ’n positiewe punteverskil.

Die drie ander Suid-Afrikaanse spanne kan hulle maar daarop voorberei dat die Lions nie meer die melkkoeie gaan wees nie, dat die welpies van ʼn paar seisoene gelede nie meer melkbaarde is nie, dat hulle nou die nodige selfvertroue het, dat hulle voorlangs hul man in die skrums gaan staan, dat hulle nie meer besit by die afbreekpunte gaan afstaan nie en dat daar agterlangs, met Sanele Nohamba (en sy plaasvervanger Morné van den Berg), Henco van Wyk, Andries Coetzee en die beseerde Edwill van der Merwe aan die spits, die kort paaie doellyn toe ken.

Die Lions het Vrydagaand eers in die 74ste minuut die voortou geneem ná ʼn strafdoel deur die komkommerkoel losskakel Gianni Lombard.

Tog het ʼn mens die gevoel gekry dat hulle in beheer is, dat die damwal sou bars.

Die grondslag is nou oorsee gelê en die Lions moet dit tuis aanvul.

Hulle speel oor die volgende paar weke teen Ulster en die Glasgow Warriors.

Maar die groot toets is wanneer hulle teen die Stormers en Sharks speel­ en dis wanneer hulle moet wys dat die afrigtingspan se harde werk, blywend is.

Puntemakers:

Leeus: 22 (5): Drieë: Andries Coetzee, Henco van Wyk, Francke Horn. Doelskop: Gianni Lombard (2). Strafdoel: Lombard.

Edinburgh: 19 (5): Drieë: Viliame Mata, Darcy Graham, Ben Muncaster. Doelskop: Emiliano Boffelli (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.