VRK-reeks: Sharks leer Lions ‘n les op nat veld

Curwin Bosch. (Foto: ANA)

Die Sharks het Saterdagmiddag op Kingspark in Durban ʼn paar lesse aan die Lions in die Verenigde Rugbykampioenskap uitgedeel hoe om in nat toestande te speel en dit baas te raak.

Die Sharks het met ingeoefende wedstrydplan ʼn bonuspuntsege van 37-10 behaal nadat hulle rustyd reeds met 17-3 voor was.

Die Sharks se voorspelers was heeltemal in beheer en agterlangs het die skrumskakel, Jaden Hendrikse, en die losskakel, Curwin Bosch, al die nodige toutjies getrek.

Hendrikse was die argitek van die oorwinning met sy puik taktiese skopwerk. Bosch het ook gedy op die nat veld en hy het met al sewe sy pogings pale toe geslaag.

Dit is mos wat jy van jou span verwag as hulle na Plan B moet oorskakel omdat dit reën en die veld glibberig was.

Dis eintlik ironies, want die Sharks het nie te veel geskaaf nie, terwyl die Lions heeltemal uit hul gemaksone gegooi is, want hulle floreer daarin om teen ʼn vinnige en hoë tempo te speel en om op vinnige besit staat te maak.

Op ʼn nat, swaar veld was dit nie moontlik nie, veral ook omdat ervaring in ʼn paar sleutelposisies ontbreek het.

Die tuisspan, met die Springbokvoorry van Oxe Nche, Bongi Mbonambi en Thomas du Toit in ʼn verwoestende bui, het die Lions in hul eie gebied vasgepen.

Die Lions was deurgaans op die agtervoet en die skakelpaar van Morne van den Berg en Jordan Hendrikse, hoe goed hulle ook al die afgelope vier wedstryde teen oorsese spanne gespeel het, kon nie die toestande oorkom nie.

Ja, dit was wel agter ʼn pak in trurat, maar die Lions sal vinnig moet leer om ook in nat toestande te speel, andersins gaan hulle oorsee nie die mas opkom nie.

Die Stormers, ná hul oorwinning van 19-17 oor die Bulls, het tot vyfde (47 punte) op die punteleer opgeskuif.

Die Sharks is sesde (46), die Bulls agtste (43) en die Lions 12de (30).

Punte: Sharks: 37 (17): Drieë: Gerbrandt Grobler, Pepsi Buthelezi, Bongi Mbonambi, Sikhumbuzo Notshe. Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafdoele: Bosch (3).

Lions 10 (3): Drie: Hencus van Wyk. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafdoel: Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.