VRK-reeks: Sharks trap klei teen Leinster

Die Sharks tydens ‘n vorige wedstryd. (Foto: GB Jordaan)

Die span wat dié seisoen die Verenigde Rugbykampioenskap wil wen, sal eers verby Leinster moet kom.

Dié Ierse kragreus het Saterdag op sy tuisveld, die RDS Arena in Dublin, die Sharks met 54-34 in ʼn drieëfees wat 13 drieë opgelewer het, geklop.

Leinster wat rustyd met 21-20 voorgeloop het, het agt drieë gedruk en die Sharks vyf.

Is die bal doelloos rondgegooi en was dit te wyte aan swak verdediging?

Nee, van die drieë wat gedruk is, was uit die ABC van Rugby en sal die hoogtepunt-pakkie vir Drie van die Jaar haal.

Die wedstryd is teen ʼn hoë tempo beslis en vir 70 minute in ʼn goeie gees gespeel, maar ongelukkig het die humeure in die laaste tien minute opgevlam en handuit geruk. Dit het tot ʼn hele paar opstootjies gelei asook ʼn rooikaart aan die Sharks-senter Rohan Janse van Rensburg vir ʼn gevaarlike skouerloop.

Die Walliese skeidsregter Craig Evans, wat maar swakkerig vir byna spanne was, kon nie die humeure in toom hou nie, veral nie met Leinster se kaptein, Johnny Sexton, wat die hele tyd in sy gesig geboer het en raad wou uitdeel.

Raak rugby nou soos sokker, waar spelers geen respek vir die beamptes meer toon nie?

Die Sharks het weliswaar met 20 punte verloor, maar die eerste keer in twee seisoene baie gevaarlik op die aanval gelyk, met Apheleli Fassi, Thaakir Abrahams en Janse van Rensburg op hul stukke.

Fassi en Abrahams se verdediging het egter veel te wense oorgelaat asook hul organisering wanneer Leinster op loop gegaan het.

Dit is beslis ʼn vingerwysing na afrigting, want ondanks hul ongelooflike talent, steek van die ander aspekte van hul spel kwaai af.

Voorlangs het die vurige Dylan Richardson (flank) en Sikumbuzo Notshe (agsteman) met hul inklimspel groot indruk gemaak, terwyl die vaskopstut Thomas du Toit ʼn yster in die skrums en by die afbreekpunte was.

Puntemakers: Leinster 54 (21): Drieë: Jason Jenkins, Garry Ringrose (2), Andrew Porter, Robbie Henshaw, Rob Russell, Johnny Sexton, John McKee. Doelskoppe: Sexton (7).

Sharks 34 (20): Drieë: Apheleli Fassi (2), Werner Kok, Thaakir Abrahams (2). Doelskoppe: Boeta Chamberlain (2), Nevaldo Fleurs. Strafdoel: Chamberlain.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.