VRK-reeks: Sharks verslind Dragons

Dr. Danie Craven het dit donkiejare gelede in Stellenbosch gedoen – ʼn paar topspelers (onder wie Springbokke) gepos ná ʼn drag slae.

Dit is wat die Sharks se afrigter, Sean Everitt, ná verlede week se lustelose vertoning teen Edinburgh gedoen het. Die gevolg? Die Sharks het Vrydagaand op Kingspark in Durban kuikenmoord gepleeg, sekerlik nadat die spreekwoordelike kweperlat ná verlede week se drag slae teen die Skotte ingelê is.

As die Sharks speel soos Vrydagaand toe hulle die Walliese Dragons met 51-3 verslind het, verdien hulle ʼn groot klop op die skouer.

Daar moes sekerlik harde woorde geval het nadat die Sharks verlede week planloos en sonder fut teen Edinburgh was.

Vrydagaand was die passie terug, die grondbeginsels is baie goed uitgevoer en wie kan teen ses drieë (twee was strafdrieë, hoewel die Sharks op pad doellyn toe was) stry?

Ja, dit was teen die tweede swakste span in die Verenigde Rugbykampioenskap, maar dit was eerder ʼn geval van hoe goed die Sharks gespeel het en hoe hulle hulself binne ses dae reggeruk het. Maar wat kan ʼn mens sê van ʼn span wat met 3-51 verloor, drie geel kaarte gekry het, twee strafdrieë afgestaan het, byna nie in een skrum staande kon bly en nie eens naby daaraan kon kom om ʼn drie te druk nie, en boonop ʼn rits hanteerfoute begaan en verkeerde keuses uitgeoefen het? Nou ja, dat hy verdien om verslind te word.

Vergeet maar eers daarvan hoe swak die Dragons was. Hulle is swak laat lyk omdat hulle onder die druk geknak het. Met ʼn skitterende voorry in Oxe Nche, Bongi Mbonambi en Thomas du Toit wat die grondslag gelê het, het die res van die Sharks se voorspelers gebaljaar.

Agterlangs was die losskakel Curwin Bosch pure Bok. Verlede week teen Edinburgh het hy swak pale toe geskop en sy taktiese skopwerk was middelmatig. Vrydagaand het hy die talente uitgestal wat hom jare gelede die nuwe goue seun van Suid-Afrikaanse rugby gemaak het. Hy was vol selfvertroue, het geskop net soos Naas Botha dit kon doen en sy agterlyn op volle vaart weggestuur.

Dan was die ander groot ster agterlangs die oud-Blitsbok Werner Kok. Hy het oral werk gesoek, die besoekers se nerwe afgeduik en sy spogdrie waar hy na links en regs om en deur verdedigers gesnel het, was vingeraflek-lekker.

Die Sharks is nou sesde op die puntelys en as hulle so voortgaan, verdien hulle dit beslis om tot die uitspeelrondes deur te dring.

Dalk was dit net die regte medisyne om ʼn paar Springbokke te laat rus.

Punte:

Sharks 51 (23): Drieë: Ox Nche, Bongi Mbonambi, Werner Kok, 2 strafdrieë (7 punte elk), Anthony Volmink. Doelskoppe: Bosch (4). Strafdoele: Bosch (3).

Dragons 3 (3): Strafdoel: Josh Lewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.