VRK-reeks: Só staan sake ná 13 weke

(Foto: Facebook/Rugby365.com)

Daar is verskeie pilare waarop welslae in die Verenigde Rugbykampioenskappe (VRK) gebou is, soos die rus en rotering van spelers, tuisveldvoordeel, bestendigheid en om bonuspunte in te samel wanneer ʼn span weg van die huis af speel.

Byna al die spanne wat tuis gespeel het, het die afgelope naweek oorwinnings behaal.

Een van die groot glanspunte was die Glasgow Warriors wat Saterdagaand weg van die huis af gewen toe hulle die Scarlets in Llanelli met 45 – 3 oorrompel het.

Glasgow se oorwinning, die eerste in agt seisoene in Llanelli, was benewens Leinster se kragvertoning toe hulle die Bulls Vrydagaand in Dublin met 47 – 14 geklop het, die indrukwekkendste.

Daar was net een werklike verrassing toe die Ospreys in Swansea ʼn oorwinning van 36 – 21 oor die Lions behaal het.

Die Lions, wat die vorige naweek geskiedenis gemaak het deur Connacht die eerste keer in Galway te klop, kon geen bonuspunte insamel nie en dit kan hulle vorentoe nog duur te staan kom.

Leinster (54 punte) is steeds voor in die reeks ná 13 wedstryde, gevolg deur die Glasgow Warriors (49), Bulls (45), Munster (43), Stormers (39), Benetton (37), Ospreys (35) en Edinburgh (34), Connacht en die Lions almal op 34 punte.

Dié 11 spanne spook na alle waarskynlikheid sake om agt plekke uit vir die uitspeelrondes, want Cardiff (24), Sharks (18), Scarlets (16), Dragons (15) en Zebre (15) is te ver agter.

Die volgende paar weke gaan baie interessant verloop, want al die spanne moet hul aandag tussen die VRK, die Europese Beker- en Uitdaagbekerreeks bepaal.

Wat ook insiggewend was, is die rol wat die oud-Bokafrigter Jacques Nienaber by Leinster speel. Leinster het verrassend van sy beste spelers, soos Jamison Gibson-Park, Dan Sheehan, Tadhg Furlong en Caelan Doris, op die plaasvervangersbank gekies en in die tweede helfte opgestuur.

Dit het baie aan Springbokke se “Bomb Squad” herinner … en dit het daartoe gelei dat die Bulls aan die gorrel geruk is.

Glasgow, wat deur Franco Smith afgerig word, het in Llanneli ses drieë gedruk, asook ʼn strafdrie.

Glasgow moet nog deur Suid-Afrika toer waar hulle teen Bulls en Lions speel en die Skotte se diepte sal beslis onder die vergrootglas wees.

Afgesien van Leinster het Munster ook na vore gebeur toe hulle Cardiff in Limerick met 20 – 15 geklop het.

Munster toer binnekort ook na Suid-Afrika waar hulle teen die Bulls en Lions speel en hul diepte sal eweneens getoets word.

Benetton het die Italiaanse vlag laat wapper toe die Italianers Connacht met 18 – 14 geklop het, maar daar wag ʼn paar struikelblokke op die span wanneer hulle weg van die huis af teen die Sharks en Bulls speel.

Naweek se uitslae:

Vrydag: Ulster 47, Bulls 14; Dragons 20, Zebre 13.

Saterdag: Benetton 18, Connacht 14; Sharks 23, Edinburgh 13; Ospreys 36, Lions 21; Stormers 13, Ulster 7; Munster 20, Cardiff 15; Scarlets 3, Glasgow Warriors 45.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.