VRK-rugby: Stormers laat waai in die wind teen Scarlets

Dan du Plessis glimlag breed met die bal in die hand. (Foto: Hansie Linde)

Dit gaan ʼn baie spesiale vertoning deur ‘n spesiale span verg om die Stormers van hul Verenigde Rugbykampioenskapstroon te stamp.

Dit het die Stormers Vrydagaand, altoos in die eerste helfte, in die Kaapstad-stadion onderstreep toe hulle die Walliese Scarlets met 36-19 verslaan het nadat die tuisspan rustyd met 29-7 voor was.

Die Scarlets, sonder hul Walliese toetsspelers, was in die eerste helfte blote papiertiere. Hulle het nie die nodige plofkrag gehad om voor te oorheers nie en hul verdediging het veel te wense oorgelaat. Was dit nie vir die talentvolle oud-Nieu-Seelander Johnny McNicholl nie (hy het heelagter gespeel), was daar agterlangs nie veel om oor opgewonde te raak nie.

Die Stormers het in ongunstige rukwind-toestande gebaljaar en nie geskroom om die bal te rek nie. Dit het tot vier puik drieë vir ʼn bonuspuntsege voor rustyd gevolg.

Die tafel was gedek vir ʼn fees in die tweede helfte.

Maar ná rustyd het die Scarlets genoeg besit voorlangs gewen en ervare agterspelers soos McNicholl, Ryan Conbeer, Thomas Rogers, Jonathan Davies en Rhys Patchell het tande begin wys.

Voorlangs het die agtsteman Sione Kalamafoi die lont by sy spanmaats aangesteek wat tot twee drieë in die tweede helfte uitgeloop het.

Nog vyf punte! (Foto: Hansie Linde)

Maar lig die hoede vir die jong Stormers-span, wat sonder verskeie van hul Springbokstaatmakers moes klaarkom en gedy het.

Die ervare Clayton Blommetjies het die Scarlets laat bontstaan en Dan du Plessis, Leolin Zas en die jong Kade Wolhuter, wat Manie Libbok se skoene op losskakel baie goed volgestaan het, het gedy.

Voorlangs het veral Neethling Fouche, Ernst van Rhyn en Hacjivah Dyaimani die Walliesers huis toe laat verlang.

Maar die Stormers sal moet leer om vir 80 minute te konsentreer, want teen die Ierse en twee Skotse spanne kan dit vorentoe lol.

Dink maar net daaraan wat kon gebeur het as die Walliesers nie vyf balle op pad vleuels toe oor die kantlyn gegooi het nie. Ook as hulle beter in die lynstane ingegooi het.

Maar as was verbrande hout teen ʼn jong fisieke Stormers-span wat vol energie en planne in die eerste helfte was.

Punte: Stormers 36 (29): Drieë: Herschel Jantjies, Leolin Zas, Ernst van Rhyn, Hacjivah Dayimani, Dan du Plessis. Doelskoppe: Kade Wolhuter (4). Strafdoel: Wolhuter.

Scarlets 19 (7): Drieë: Ryan Conbeer (2), Tom Rogers. Doelskoppe: Dan Evans, Rhys Patchell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.