Vrystaat-Cheetahs die kortkop gunsteling teen Leeus

(Foto: Facebook)

Die Vrystaat-Cheetahs steek darem lekker tong uit vir die doemprofete wat hulle verlede jaar op die ashoop gegooi het nadat hul Superrugby-status onder hulle uitgepluk is.

Maar hulle het in moeilike tye vasgebyt en deurgedruk en speel Saterdag in Bloemfontein die 13de keer in ʼn Curriebeker-eindstryd wanneer hulle teen die Goue Leeus te staan kom.

Vyf keer was hulle suksesvol nadat hulle dit eers in 1976 die eerste keer teen die Westelike Provinsie in Bloemfontein reggekry het.

Hoeveel kenners het hulle vanjaar ʼn werklike kans gegee nadat hulle soveel spelers verloor het en nou nie juis die wêreld aan die brand gespeel het nie in hul eerste twee seisoene in die Pro14-reeks, wat hul reddingsboei was?

Die Curriebeker-reeks is ook afgewater, is daar wyd verkondig, want die Blou Bulle, Westelike Provinsie, Sharks en die Goue Leeus speel sonder hul Springbokke.

Maar namate die reeks, wat boonop oor net een ronde beslis is, gevorder het, het die gehalte opgevlam en het nuwe spelers na vore getree.

Soos ons jare gelede al geleer het, kan die Vrystaat Cheetahs nooit afgeskryf word nie, veral omdat die voerband Grey-kollege jaarliks genoeg spelers vir die volgende geslag oplewer en die afrigtingspan, onder leiding van Franco Smith, gesorg het dat tradisionele hardlooprugby, sonder om die basiese beginsels af te skeep altyd voorop gestel word.

Tian Meyer. (Foto: PRO14 Rugby)

Smith het net een verandering aan die span aangebring (wat op die regte tyd gepiek het) wat die Sharks verlede Saterdag met 51-30 van hul voete gehardloop het. Die opdraflank Abongile Nonkontwana ruil plekke met Gerhard Olivier en sal na alle waarskynlikheid in die tweede helfte opgestuur word.

Ivan van Rooyen, die Leeus se afrigter, het ook net een verandering aan sy span, wat Griekwas met 34-19 in die halfeindstryd verslaan het, aangebring. Die stut Sithembiso Sithole het Donderdag ʼn kuitspier in die span se laaste oefening geskeur en hy word deur Dylan Smith vervang.

Die Leeus, net soos Vrystaat, het vanjaar ook vriend en vyand verras met ʼn vars briesie wat hulle toegevoeg het.

Dis twee jong spanne, vol opwindende spelers wat nog baie waarde tot Suid-Afrikaanse rugby kan voeg.

Nou staan hulle op die groot verhoog en wat van plankevrees?

Daar is nie veel verskil op papier nie, maar die sielkundige voorbereiding van ʼn eerste eindstryd kan vir baie van die jongelinge, die grootste rol speel. En dis waar Smith en veral Ruan Pienaar die leidende rol speel.

Die spanne is: 

Vrystaat-Cheetahs: 15 Clayton Blommetjies, 14 William Small-Smith, 13 Benhard Janse van Rensburg, 12 Dries Swanepoel, 11 Tian Meyer (k), 10 Tian Schoeman, 9 Ruan Pienaar, 8 Henco Venter, 7 Junior Pokomela, 6 Gerhard Olivier, 5 Walt Steenkamp, 4 Sintu Manjezi, 3 Erich de Jager, 2 Joseph Dweba, 1 Oxe Nche.

Plaasvervangers: 16 Jacques du Toit, 17 Charles Marais, 18 Reinach Venter, 19 JP du Preez, 20 Jasper Wiese, 21 Abongile Nonkontwana, 22 Louis Fouche, 22 Darren Adonis.

Goue Leeus: 15 Tyrone Green, 14 Madosh Tambwe, 13 Wandisile Simelane, 12 Duncan Matthews, 11 Stean Pienaar, 10 Shaun Reynolds, 9 Ross Cronje (k), 8 Hacjivah Dayimani, 7 Cyle Brink, 6 Marnus Schoeman, 5 Marvin Orie, 4 Ruben Schoeman, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Pieter Jansen, 1 Dylan Smith.

Plaasvervangers:16 Jan-Henning Campher, 17 Nathan McBeth, 18 Johannes Jonker, 19 Wilhelm van der Sluys, 20 Len Massyn, 21 Dillon Smit, 22 Jan-Louis la Grange, 23 Jamba Ulengo.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen.
Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs, Egon Seconds.
TV-skeidsregter: Shaun Veldsman.

Afskop: 17:00.

Voorspelling: Vrystaat-Cheetahs met 5 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SjN ·

Dit gaan n taai een wees, tuisveldvoordeel speel n rol, op die stadium is die cheetas meer stabiel maar die leeus het n buitekans op die einde, sal Maandag kommentaar sien, hoop op n mooi game.

Frans C ·

Soos gewoonlik het SARU hulself weer in ‘n hoek in geverf,die dag toe hul die Cheetahs uit
Superrugby geskop het terwille van swakker spanne in die kompetisie.Dit gaan ‘n groot verleentheid vir Suid Afrikaanse rugby en hul ondersteuners wees as die Cheetahs die beker wen.
Hoe verduidelik jy dat jou nasionale kampioenspan in die Pro 14 speel en die ander sg
groot bonde wat nie die eindstryd kon haal nie in Superrugby meeding?Die Cheetahs is
‘n meer gebalanseerde span en behoort die Leeus te klop wat maar nog steeds in ‘n spanbou proses is.
Van die span wat driekeer in Superrugbyeindstryd betrokke was is daar niks oor nie en dit is ook die probleem met die ander sg groot bonde.Die sprong van Curriebeker na Superrugby en selfs Pro 14 is net te groot vir Suid Afrikaanse provinsiale spanne.

As dit nie was vir streekbedeling sou geen provinsiale span dit gemaak het in Superrugby op hul eie nie.Dink regtig SARU moet maar die Argentynse voorbeeld volg.
Kies drie spanne om Suid Afrika in Superrugby te verteenwoordig en besluit op ‘n rotasiebasis waar hul gehesves sal word en hoe wedstryde verddel word tussen unies.

As dit nie gedoen word nie gaan die Argentyne een van die dae ook Curriebekerrugby
oordonder want hul is reeds eerste liga wenners.

Bertus ·

HOE verduidekik ‘n mens dit, vra jy? Maklik. Dis net die Cheetahs, Griekwas en Pumas wat met hul “vol” spanne speel. Die res speel almal sonder 5 of 6 Bokke. Haal 5 of 6 Cheetahs uit en dan was hulle nie in die finaal nie. Daar is dus absoluut niks om te verduidelik nie. Die spanne met die minste Bokke behoort altyd die Curriebeker te wen. En wie weet, dalk laat die ref julle weer driee druk terwyl dit “time off” is vir substitutes. Ek gun die Cheetahs hul Curriebeker, maar wees net eerlik oor die feite

duiwelsadvokaat ·

Soos ek na al die kenners se menings op radio en tv luister moet die cheetahs bloot net opdaag saterdag om die koppie te gaan haal. Ou Toks se hulle gaan sommer veeer wen. Hoop net die wedstryd is ‘n toonbeeld van mooi hardloop rugby, en word nie weer bederf deur ‘n skeidsregter met ‘n ego probleempie nie. Goed om te sien die stadium gaan lekker vol wees.

Nico K ·

Daar is mense wat kla oor die teenwoordigheid van die Cheetahs omdat ‘n Pro 14 span nou Curriebeker rugby speel. Maar eintlik is daar nie ‘n verskil nie. Die ander unies se Curriebeker spanne is basies hul super 12 spanne sonder hul springbokke. Dieselfde met die Vrystaat. Dit is hul Pro 14 span sonder hul Springbokke. Die feit dat hul nie ‘n enkele springbok het nie, is nie hul skuld nie. Voor hul aan die pro 14 deel geneem het, het hulle springbokke gehad. Ek dink selfs die Springbok afrigter kyk nie Pro 14 nie. Niemand anders kyk dit nie. Nie eers ek nie en ek is ‘n cheetah ondersteuner.

Frans C ·

Dit die Cheetahs ook in die Pro 14 speel is ‘n bysaak.Die grootste probleem wat ek met Suid Afrikaanse rugby het is hoe dit saamgestel is.SARU het vir hulself ontsettend baie probleme geskep met die toelating van Argentynse spanne in sowel die Curriebeker as Superrugby.

Die Jaquares is nie net die Suid Afrikaanse konferensie wenners nie maar dring ook deur
na die eindstryd.’n Argentynse span met dieselfde naam wen die eerste liga en skep dadelik ‘n probleem want in die verlede sou die wenner ‘n promosie/relegasie wedstryd teen die span wat laaste in die Premierliga eindig ,tans die Pumas speel.

Om verleentheid te voorkom reël SARU dat die bes geplaaste Suid Afrikaanse span nl
die Griffons ‘n kans kry om die Pumas te klop en in die premierliga van die Curriebeker te speel.Dit skep vir my ‘n probleem want as ‘n Argentynse span goed genoeg is om deur te dring na eindstryd in ‘n internasionale kompetisie behoort daar mos geen probleem tewees om so’n span wat die eerste liga wen te laat uitspeel vir ‘n plek in die premierliga.

Dit is duidelik dat so iets groot probleme sal skep.Die Cheetah se probleem is soortgelyk
want al wen hul die Curriebeker is hul nog steeds nie goedgeoeg vir Superrugby nie.
Dit is duidelik dat iets radikaal verkeerd is hoe rugby in Suid Afrika gekonstruktueer is.

Werner ·

Toe die Cheetahs laas jaar teen SWD moes uitspeel, het hul Pro14-span selfs hul eie ref (Jaco Peyper) gebruik om seker te maak hulle wen.

Buffel ·

Baie negatiewe aanmerkings oor die Cheetah’s maar hulle het die WP narre pap gespeel met al hulle hoe ha en Prooovinncee en al. Beste 2 spanne in die eindstryd.

Christo ·

Skaf currie beker af. Lankal nie meer krag teen krag nie. Cheetahs nou op n high, met pro 14 lyk soos beginners. Geen wonder paviljoene so verlate nie.

Swartwolf ·

Vrystaat stadion is vol vanmiddag. Feit Vrystaat in die finaal is meer ‘n refleksie op Rassie se obsessie met die WP narre soos Kolisi, Mbonambi, die Ellende, Kolbe (ex WP) en dik Malherbe. Waar is Ox, Madosh, Dweba, Green, Pienaar, ens?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.