Was Francois Pienaar se Transvaalspan die beste?

nelson-mandela-en-francois-pienaar

Nelson Mandela en Francois Pienaar. Argieffoto.

Om Suid-Afrika se beste provinsiale of Superrugbyspan van alle tye uit te sonder, is om moeilikheid te soek.

Wat van die Noord-Transvaalse span van die laat sestigerjare en 1970?

Die span was gelaai met Springboklegendes soos Frik du Preez, Piet Uys en Mof Myburg.

Maar aikôna, Griekwas het die Ligbloues dan in die 1970-eindstryd in Kimberley met 11-9 geklop.

Wat van die Transvaalse span wat in 1971 die Curriebeker met Noord-Transvaal gedeel en die jaar daarna gewen het?

Wat van die Westelike Provinsie wat in sy goue jare tussen 1982-’87 die Curriebeker ʼn ongelooflike vyf keer agtereenvolgens gewen het?

Wat van die Noord-Transvaalse spanne tussen 1977-’81 en weer tussen 1987-’89, toe Naas Botha die septer geswaai het?

Wat van die Bulls wat in 2007, 2009 en 2010 die Superreeks gewen het?

Die span van 2007, wat deur Heyneke Meyer afgerig is, het die Reds (wat deur niemand anders nie as Eddie Jones afgerig is) in die laaste groepwedstryd met 92-3 vermorsel. Hulle het voortgegaan deur die Crusaders in die een halfeindstryd met 27-12 te verslaan en die Sharks met 20-19 in die eindstryd in Durban te klop.

Vooraf het hulle ook die Lions (31-7) en die Stormers (49-12) uit die pad gevee.

Daar was 14 Springbokke in die opdrafspan in die eindstryd teen die Sharks en Durban en nog vier op die bank.

Die span het die grondslag vir nog twee Superrugbyseges in 2009 en 2010 gelê en was ook die bloudruk vir Peter de Villiers om in 2009 die Britse en Ierse Leeus in die reeks te klop.

Sekerlik verdien hulle ʼn baie groot regmerkie.

Maar om ʼn klip in die bos te gooi, glo ek die Transvaalse spanne van 1993 en 1994 het die baanbrekerswerk vir die Bokke gedoen.

Hulle het agt trofeë binne twee jaar gewen en die pad vir die afrigter Kitch Christie uitgemessel om in 1995 die Wêreldbeker te wen.

In die Super10-eindstryd in 1993 teen Auckland (gelaai met 14 All Blacks) het die Rooibontes met 20-17 geseëvier.

Hulle het in 1993 en in 1994 die Curriebeker agtereenvolgens gewen, so ook die Lionbeker (drie keer, ook agtereenvolgens), M-Net se aandreekse waarin buitelandse spanne soos Samoa en die Nieu-Seelandse Maori gespeel het, asook die Percy Frames-trofee.

Boonop het hulle ʼn vernuwing in Suid-Afrikaanse rugby gebring met hul hardlooprugby en onortodokse bewegings.

Dis hoekom hulle ʼn kortkop voor die Bulls en die goue WP-spanne van 1982-’85 eindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

By verre ,hulle het al die bekers gewen en hulle ,nie die Bulls het die eerste super 10 reeks gewen en op daardie dag sou hulle enige internasionale span in die wêreld geklop het ,Francois was n uitstekende kaptein en in ag geneem hy het Keitch Cristie wat siek was op daai stadium bygestaan met die afrigting van die span.Die voorspellers en agterlyn kon net soos wat hulle was die springbokke verteenwoordig en hulle sou ook die wereld beker kon wen.

Strandloper ·

Ja hy was! Is dit nou regtig nodig om alles te bevoeter met die foto?

Heinrich ·

En weer, soos gewoonlik, word daar geen melding van ‘n Vrystaat span gemaak nie. Wat van die Cheetah span (2005 – 2007). Hulle het ‘n bok gelaaide Blou Bulle in 2005 op Loftus voor ‘n vol stadion gewen om weer die gesogte Curriebeker te verower. Dit nadat hulle 25-15 agter was, met slegs 9 minute se speeltyd oor, en uiteindelik met 29-25 gewen het. Hulle het ook die daaropvolgende jaar 28-28 gelykop gespeel teen die eindste Pretorianers. In 2007 het hulle weer van agter gekom om die Leeus met 20-18 te wen. Hulle het nou wel nie ‘n Superrugby titel nie, maar verdien ten minste krediet. Ek sê maar net.

koos10 ·

Nogal ironies dat so ‘n rukkie terug op MM het een of ander “rugby kenner(s)” die top 10 afrigters aangewys en ek het nogal gewonder of hulle baie jonk was en nog nie van Kitch Christie gehoor het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.