WB-toernooi: Engelse in halfeind na broekskeursege oor Fidji

(Foto: England Rugby/X)

Engeland se rugbyspan het tot die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi deurgedring, maar nie voordat hy in die Stade Velodrome in Marseille goed skrik op die lyf gejaag is deur Fidji nie.

Die Rose het met 30-24 gewen en moes teen die einde baie diep delf om ʼn nederlaag af te weer nadat hulle rustyd met 21-10 voor was.

Was dit nie vir ʼn skepdoel en ʼn strafdoel deur Owen Farrell diep in die tweede helfte nie, kon die Engelse self verloor het.

Inteendeel, Fidji het die telling in die 69ste minuut met twee drieë met 24-24 gelyk laat trek, maar hulle kon nie die uitklophou plant nie.

Dis hoekom die Engelse mekaar omhels het en op mekaar gespring het toe die eindfluitjie geblaas het.

Soos gewoonlik het Fidji se dissipline weer gelol. In die eerste helfte is die vleuel Vinaya Habosi met ʼn geel kaart afgestuur ná ʼn kop-teen-kop-botsing met die Engelse heelagter Marcus Smith.

Hulle het ook baie foute begaan, van die verkeerde kant af by losskrums ingeduik en nie weggerol nie.

Maar dan kon die Engelse flank Tom Curry ook ʼn geel gekry het vir ʼn gevaarlike duikslag.

Dan het Farrell in die 78ste minuut ʼn geel kaart vrygespring nadat hy die bal weggeklap het.

Vir Fidji was hul vertonings tydens die toernooi soms rooiwarm en hulle is oral oor toegejuig.

Vir Engeland is dit ʼn bonus om in die halfeindronde te speel.

Hulle is beperk, maar voer die basiese dinge reg uit.

Maar kan hulle verder vorder? Met voorspelers wat nie vir 80 minute kan oorheers nie, nee. Ook nie met ʼn span wat voorspelbaar is en aan nog spelskeppers en spelbrekers ontbreek nie.

Puntemakers: Engeland 30 (21): Drieë: Manu Tuilagi, Joe Marchant. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell (5). Skepdoel: Farrell.

Fidji 24 (10): Drieë: Viliame Mata, Simione Kuruvoli, Vilimoni Botitu. Doelskoppe: Frank Lomani, Simione Kuruvoli (2). Strafdoel: Lomani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.