WB-toernooi: Poemas klop Japan, dring deur tot kwarteindronde

Argentinië se Mateo Carreras duik vir ʼn drie tydens die wedstryd teen Japan (8 Oktober 2023) (Foto: Loic Venance/AFP)

Dit het ʼn hele paar weke geneem, maar Argentinië se rugbyspan het Sondag in die Stade de la Beaujoire in Nantes die eerste keer behoorlik vlam gevat in vanjaar se Wêreldbekertoernooi.

Die Poemas het hul plek in die kwarteindronde verseël toe hulle Japan met 39-27 geklop het nadat hulle rustyd met 15-14 voor was.

Die Poemas, wat tweede in Groep D agter Engeland geëindig het, kom op 14 Oktober in Marseille teen Wallis te staan, terwyl Japan se WB-pad ongelukkig doodgeloop het.

Die Poemas wat vyf drieë gedruk het, kan Wallis klop, hoewel die Rooi Drake onoorwonne in Groep C afgesluit het.

Die Poemas se groot helde was die twee vleuels, Sebastian Carreras (hy speel vir die Newcastle Saints in die Engelse Premierliga) en Emiliano Bofelli (hy speel vir Edinburgh in Skotland).

Carreras het ʼn driekuns aan drieë met sy vaart behaal, terwyl Bofelli 14 punte, insluitende ʼn drie wat hy gedruk het, aangeteken het.

Dit is een van die kenmerke van ʼn span wat met selfvertroue speel as hy die bal rondgooi en sy vleuels drieë druk.

Voorlangs het die Poemas se vurige slot Tomas Lavinini en die losvoorspelers Marcos Kremer, Pablo Matera en Juan Martin Gonzales gesorg dat die span op die voorvoet bly.

Ja, dalk het Japan, wat nie op fisieke voorspelers staatmaak nie, se patroon die Poemas gepas.

Dalk het die geelkaart wat Lappies Labuschagne vir ʼn skouer-teen-die-kop-duikslag gekry het, die span getap.

Maar tog is dit jammer dat Japan, wat as die Dapper Bloeisels bekend staan, nou huiswaarts keer. Hulle ken nie van moed opgee nie en het weer groot indruk met hul samespel gemaak en omdat hulle hul bewegings op volle vaart uitvoer.

Die skitter-drie wat die slot Amato Fakjatava gedruk het, was ʼn getuigskrif hiervan.

Dis duidelike dat die rolle wat afrigters soos Johan Ackermann, Frans Ludeke, Robbie Deans en Allister Coetzee in die Japanse topliga speel, deursyfer na die nasionale span.

Puntemakers: Argentinië 39 (15): Drieë: Santagio Chocobares, Mateo Carreras (3), Emiliano Bofelli. Doelskoppe: Emiliano Bofelli (3), Nicolas Sánchez.  Strafdoele: Bofelli, Sánchez.

Japan  27 (14): Drieë: Amato Fakjatava, Naoto Saito, Jone Naikabula. Doelskoppe: Rikiya Matsuda (3). Strafdoel: Matsuda. Skepdoel: Lomano Lemeki.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.