WB-toernooi: Tonga en Roemenië blaas vuur

Tonga se Semisi Paea vang die bal in ʼn lynstaan in die wedstryd teen Roemenië (8 Oktober 2023) (Foto: Sameer Al-Doumy/AFP)

In die ou dae is dit krag teen krag genoem.

Dit is hoekom dit nie veel sin vir Wêreldrugby maak om die tweedevlak-spanne, soos Namibië, Chili, Uruguay, Portugal en Roemenië vir die wolwe te gooi tydens ʼn Wêreldbekertoernooi nie.

Ja, dis die hoogtepunt van enige speler se loopbaan om in ʼn vol stadion saam met rugby se grotes mee te ding, maar vind die spanne werklik daarby baat as hulle met kriekettellings verloor?

Hopelik het Sondag se opwindende kragmeting tussen Tonga en Roemenië in die Stade Pierre-Mauroy in Lille die gloeilamp by die rugbybase aangeskakel.

Die spanne het goed teen mekaar opgeweeg omdat dit krag teen krag was.

Tonga, wat sewe drieë gedruk het, het met 45-24 gewen nadat hulle rustyd met 21-17 voor was.

Laat die tweedevlak-spanne eers in hul eie kleiner Wêreldbekertoernooi meeding waar krag teen krag geld.

Vergoed die wenners en laat die toptwee-spanne dan saam met die top-12-spanne op die wêreldranglys meeding.

Dit was Sondag die eerste keer vanjaar dat Tonga se Charles Piutau tot sy reg kon kom, die eerste keer dat George Moala gewys het hoekom hy vir die All Blacks senter gespeel het, die eerste keer dat Adam Coleman gewys het dat hy steeds in enige geselskap tuishoort en dat Ben Tameifuna soos ʼn agterspeler kon hardloop.

Lig ook die hoede vir Roemenië, wat die eerste keer nie net verdedig het en onder die pale gestaan het nie, maar ook kon aanval.

Puntemakers: Tonga 45 (21): Drieë: Solomone Kata (2), George Moala, Afusipa Taumoeoeau, Sione Vailanu, Pita Ahki, Karen Taumoepeau. Doelskoppe: William Havili (5).

Roemenië 24 (17): Drieë: Florin Surugiu, Cristi Boboc, Marius Siomionesco. Doelskoppe: Alin Conache (3). Strafdoel: Conache.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bossie ·

EK dink , hierdie naweek wat kom is die wereldbeker halfeind.
Die naweek daarna is slegs oefen wedstryde vir wenners in
A en B groepe

Kabous ·

Hierdie insetsel is vereseker nie waar nie, kyk na Portugal se spel teen fudji en kyk hoe het hulle verbeter, kyk na die bokke en hoe het hulle geval, ek glo dat die dag van die spel heeltemal anders is as wat op papier staan en los die spanne net soos dit nou is, gee die ander spanne die eer om n werelbeker te kan deelneem, dit is n groot eer vir enigge land!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.