WB-toernooi: Wallis klop Georgië, eindig bo in Groep C

Wallis se Louis Rees-Zammit (middel) tydens die wedstryd teen Georgië (7 Oktober 2023) (Foto: Damien Meyer/AFP)

Daar wag ʼn baie taai tameletjie en kopkrap op die Sesnasies-rugbybase.

Dit het gevolg nadat Frankryk Vrydagaand in Lyon ʼn wegholsege van 60-7 oor Italië behaal het en Wallis Saterdag in Nantes ʼn sege van 43-19 oor Georgië behaal het.

Georgië het Wallis baie harde bene laat kou en hoewel hulle slegs ʼn gelykopuitslag teen Portugal (18-18) in Groep C behaal het, het hulle nie skande gemaak soos die Italianers teen die All Blacks en Hane nie.

Die Azzurri is met 96-17 deur die All Blacks vernietig en met 60-7 deur die Franse afgeslag. Hulle het weliswaar vir Namibië (52-8) en Uruguay (38-17) geklop, maar slegs 114 punte aangeteken en 181 afgestaan.

Georgië, wat teen Portugal gelykop gespeel het, het baie beter rekenskap van hulself gegee. Hulle is slegs met 17-12 deur Fidji geklop en is met 35-15 deur Australië verslaan.

Georgië het 113 punte afgestaan en 64 punte aangeteken.

Verdien Italië, geoordeel aan sy vertonings, om bo Georgië in die Sesnasies-reeks te speel?

Was dit nie vir die vaart van die Walliese vleuel Louis Rees-Zammit nie, wat drie drieë gedruk het, kon Georgië baie maklik dit nag vir Wallis gemaak het.

Hulle pak voorspelers skrik vir niks nie en hul agterspel tref al hoe meer die oog.

Dis nie net meer stampkar-rugby nie, maar goeie beplande en afgeronde bewegings wat met vaart uitgevoer word.

Wallis het sy onoorwonne vertoningslys in Groep C behou en die vierde keer in ʼn WB-toernooi as groepwenners uit die stryd getree. Die span is baie goed afgerig (Warren Gatland) en verdedig soos tiere met ʼn paar wedstrydwenners agterlangs.

Puntemakers:  Wallis 43: Drieë: Tomas Francis, Liam Williams, Louis Rees-Zammit (3), George North. Doelskoppe: Sam Costelow (5). Strafdoel: Costelow.

Georgië 19: Drieë: Merab Sharikadze, Vano Karkadze, Davit Niniashvili. Doelskop: Luka Matkava (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.