Weinig teken van ‘B-Bokke’ in die span

Cheslin Kolbe is terug op regtervleuel vir die derde toets teen Wallis. Foto: GB Jordaan.

Reg, dit lyk asof die dae van eksperimentele spankeuses iets van die verlede is en die Springbokke se grofgeskut is terug vir die derde en beslissende toets teen Wallis in Kaapstad.

Jacques Nienaber het verlede week die oë laat rek toe hy ’n spul veranderinge aan die beginspan aangebring het, terwyl die sogenaamde “B-Bokspan” veral onder kritiek in die Walliese media deurgeloop het.

Maar benewens Handré Pollard, Jaden Hendrikse, Pieter-Steph du Toit, Trevor Nyakane en Eben Etzebeth is daar nie veel teken van die spelers wat verlede week teen die Rooi Drake in Bloemfontein vasgeval het nie.

Siya Kolisi sal weer die span aanvoer, terwyl Etzebeth in sy 100ste wedstryd vir die Springbokke sal speel. Terselfdertyd is dit ook ’n spesiale dag vir Bongi Mbonambi; die haker speel Saterdag in sy 50ste toets vir Suid-Afrika.

Agterlangs maak Damian Willemse, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende en Makazole Mapimpi weer hul terugkeer, terwyl Faf de Klerk en Willie le Roux vir die nodige ervaring op die plaasvervangerbank sorg.

“Ons glo dat hierdie kombinasies die beste sal werk vir die komende toets. Ons het ’n eerlike gesprek met die spelers gehad en dit duidelik gemaak wat van hulle verwag word. Hopelik verloop alles volgens plan om die verlangde uitslag te bewerkstellig,” het Nienaber gesê.

Eben Etzebeth speel Saterdag in sy 100ste toets. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Volgens die Springbokafrigter verwag hy weer ’n fel aanslag van die besoekers.

“Ons het vanuit die staanspoor aangevoer dat Wallis nie onderskat moet word nie. Boonop het hulle Saterdag ’n eerste reeksoorwinning in Suid-Afrika in die visier en hulle sal die Springbokke onder nog meer druk wil plaas. Dit gaan ongetwyfeld ’n groot tweestryd wees.”

Nienaber en kie sal beslis vir verlede week se blaps wil vergoed. Dit kan nie ’n lekker gevoel wees om die eerste Springbok-groep te word wat ’n toets teen die Rooi Drake in Suid-Afrika verloor nie.

Veertien veranderinge of te not.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Kwagga Smith, Elrigh Louw, Faf de Klerk en Willie le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Manie ·

Ek het ‘n probleem met die keurders se getjommel met Nyakane die een week op loskop en die ander week op vaskop. Met de Allende op binnesenter gaan hulle definitief ook nie hardloop rugby speel nie. Jaden Hendrikse maak te stadig skoon en ek sou Arendse in Mapimpi se plek gekies het, hy is vuurwarm. Oor die nommer 6 baljagter flank praat ons nie, net so Kwagga Smith se insluiting op die bank bo Marcel Coetzee of Deon Fourie.

piet ·

De Allende is 10-keer beter as Esterhuizen en een van ons beste spelers. Esterhuizen is useless, kan glad nie pass nie. Laasgenoemde se hantering is ook swak.

Manie ·

Jy is reg Piet, beide Esterhuizen en de Allende speel stampkar rugby.

Niklaas ·

Kom ons wag maar en kyk hoe vaar hulle. Ek reken dis darem een heelwat sterker span as laas naweek se “eksperimentele “groep. Ek sou net vir Fassi op heelagter wou sien . Willemse het net teveel afdae in die verlede al beleef.

Pannies ·

Hoop hulle het op n ander spelpatroon besluit ook.
En sommer n plan B ook as dit nie werk nie.

JN ·

Die Protea trui is goedkoop deesdae..
Waar sien jy soveel debutante op een slag? Voorwaar Arrogansie wat lekker gebackfire het..
Wallis is met min respek gehanteer deur Nienaber en die eindresultaat was die bewys..

Witbaard ·

Hou op suinig speel en balle doelloos rondskop, dan kan daar dalk n wen uitdop.

H.A. ·

Snaaks dat hulle die Vrystaat kies vir hulle ‘blapse’. Pretoria, Johannesburg, Durban en Kaap is mos die ‘classy’ van die land.

piet ·

Goeie span. Niks minder as ‘n gemaklike oorwinning gaan goed genoeg wees nie. Uitstekende plaasvervangerbank met Faf en Willie daar. Gaan waardevol wees om die gesoute manne te he as dit weer naby is teen die einde. Ek dink die Bokke gaan met so 15 punte wen.

quartus ·

Die toeskpuers wat by die toets in bloemfontein bygewoon het is daarop geregtig dat die koste van die kaartjies aan hulle terugbetaal word want hulle is gekul. Die span in die groen truie was nie n egte springbokspan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.