Wêreldbeker: Hou dié spelers dop

Manie Libbok laat waai met die regtervoet. (Foto: Simon King/ProSportImages/DPPI via AFP)

Die sterre van wêreldrugby trek in Frankryk saam vir die Wêreldbekertoernooi van 2023. Van die groot name sal weer uitblink en wedstrydbrekers vir hul spanne wees, maar dis ook die geleentheid vir nuwe helde om na vore te tree. Dit is onmoontlik om elke sterspeler uit te wys, maar hier is van die spelers om dop te hou tydens hierdie toernooi:

Damian Penaud (Frankryk): Daar word na hom verwys as die prins van vleuels. Hy het 21 drieë in sy 20 toetse gedruk. Moenie verbaas wees as hy nog ʼn klompie in hierdie toernooi byvoeg nie. Hy lyk altyd gevaarlik as hy met die bal aan die hardloop gaan.

Antoine Dupont (Frankryk): Sommige rugbykenners meen hy is die naaste wat rugby aan sokker se Lionel Messi het. Dit is ʼn reuse-verantwoordelikheid wat hy dra as skrumskakel en kaptein van die tuisspan. Hy is uiters betroubaar onder druk en is waarskynlik sy span se vernaamste spelskepper. Sy spel saam met losskakel Matthieu Jalibert moet die Franse flair inspireer waaroor almal so opgewonde raak.

Thomas Ramos (Frankryk): Vlok Cilliers, die Franse se skopafrigter, het al na hom as hulle Morné Steyn verwys. Hy is ʼn uiters betroubare skopper pale toe. Moenie verbaas wees as hierdie heelagter een van die toernooi se voorste puntemakers is nie.

Kazuki Himeno (Japan): Hy was in Japan se uitstekende toernooi in 2019 ook in die span. Die agsteman is die Brave Blossoms se kaptein en sal hoop om hulle te inspireer tot dieselfde hoogtes van vier jaar gelede.

Ardie Savea in aksie vir die All Blacks. Foto: Michael Bradley/AFP.

Ardie Savea (Nieu-Seeland): Hy is meer inspirerend as die All Blacks se kaptein, Sam Cane. As agsteman is hy ʼn kragreus wanneer hy hardloopkans met die bal kry. As die All Blacks ʼn kans wil staan om hierdie toernooi te wen, sal Savea een van die uitblinkers moet wees. Sy plettervatte stuit ook ander spanne se aanvalle.

Ange Capuozzo (Italië): Hierdie “klein” heelagter is sy land se eie Cheslin Kolbe. Dit is rugbyhemel om hom met die bal te sien hardloop as jy hom net ʼn halwe kans gee. Hy is meer glibberig as Jacob Zuma.

Richard Hardwick (Namibië): Hy kom van die Melbourne Rebels af en het twee keer gespeel vir Australië in 2019. Hierdie agsteman, wat ook flank speel, kan vir sy span goud werd wees by die afbreekpunte.

Joe McCarthy (Ierland): Dié 22-jarige slot van Leinster staan ses-voet-ses in sy stewels en is ʼn kragman vir sy span. Hy het ʼn uitstekende seisoen en dit gaan interessant wees om hom teen Eben Etzebeth in aksie te sien.

Rory Darge (Skotland): Hierdie flank van Glasgow Warriors is uitstekend by die afbreekpunte. Hy kan sake vir opponente ook moeilik maak met sy kraglopies.

Pita Ahki (Tonga): Hierdie senter het vir Nieu-Seeland sewesrugby gespeel en het ook op o.20-vlak vir Nieu-Seeland uitgedraf. Nou speel hy vir Toulouse en het ʼn uitstekende seisoen gehad. Sy span is een om dop te hou, veral omdat daar ander voormalige All Blacks in die groep is.

Makazole Mapimpi en Louis Rees-Zammit in ’n luggeveg. Foto: GB Jordaan.

Will Skelton (Australië): Afrigter Eddie Jones het hierdie slot aan die diep kant ingegooi deur hom kaptein te maak. Hou Skelton dop – as die Wallabies enige impak by die toernooi wil maak, gaan hy op sy beste moet wees.

Davit Niniashvili (Georgië): Daar word baie gepraat oor hierdie heelagter van Lyon. Sy land se voorspelers lyk meer gedug as voorheen en dit gaan die gevaarlike agterspelers, soos Niniashvili, hardloopkans gee.

Louis Rees-Zammit (Wallis): Hy is net 22 jaar oud, maar word reeds beskou as een van die beste vleuels in die wêreld. Die vraag is of Wallis se pak voorspelers gehaltebalbesit kan verseker vir die spoedvraat.

Pablo Matera (Argentinië): Die Poemas se flank is ʼn belangrike dryfveer in die pak voorspelers. Die Argentyne staan die kans om so ver as die halfeindronde te vorder en Matera sal ʼn sleutelrol daarin speel.

Theo Dan (Engeland): Hy is ʼn nuwelinghaker vir Engeland, maar het reeds gewys daar is hope talent. Hy hardloop graag met die bal en het die systap van ʼn agterspeler.

Ollie Chessum (Engeland): Hy is ʼn 22-jarige slot wat uitstekend in die Sesnasies gespeel het. Hy is daarna beseer en is nou weer reg om te wys wat in hom steek.

Malcolm Marx. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Malcolm Marx (Suid-Afrika): Hy is ʼn staatmaker en speel nooit ʼn swak wedstryd vir die Springbokke nie. Marx gaan beslis ʼn drie of sewe druk as die Bokke se losgemaal aan die gang kom.

Damian Willemse (Suid-Afrika): Hy is uiters gevaarlik wanneer hy aan die hardloop gaan. Sy bestendigheid onder die hoë bal gaan ook vir die Bokke van uiterste belang wees.

Eben Etzebeth (Suid-Afrika): Hy is een van die sleutels tot die Springbok-pak se sukses. Sy dissipline is in onlangse tye ook baie beter en dit gaan veral by die afbreekpunte in die toernooi belangrik wees.

Manie Libbok (Suid-Afrika): Hy was nie voor die toernooi die eerstekeuse-losskakel nie, maar afgesien van ʼn paar verbroude skoppe pale toe, was hy ʼn staatmaker in die nommer-10-trui. Libbok is ook gevaarlik op die aanval en kan die gevaarlike Suid-Afrikaanse vleuels die hardloopkans gee wat enige span kan klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Kolisi, Malherbe behoort ook genoem te word. Beide ‘n reuse invloed op die Bokke se sukses. Opgewonde oor wat Libbok kan doen met daai agterlyn.

kragaap ·

Soos voorheen gesê word Penaud genoem en nie die SA mikro vleuels nie. K word vir ‘n rede nie genoem nie, Malherbe stem ek saam hy is die beste nr 3 in die toernooi.

SjN ·

Piet, weereens die bewys dat jou geliefde kaptein nie in die liga hoort nie.

piet ·

Bewyse van wie, ‘n rugbyskrywer? LOL. Oor die wereld heen word Kolisi baie hoog geag dis net sommige verregses wat nie van hom hou nie (asook van geen ander gekleurde speler in die SA span nie). Feit is dat Kolisi se tydige terugkeer reeds ‘n reuse verskil gemaak het. Kyk net hoe het die span sonder sy leierskap gesukkel, futloos gewees. Skielik het ons weer hoop nadat kaptein Kolisi die flou spulletjie aan die brand gesteek het.

kragaap ·

Sy spanmaats sal nie geneë wees met dit nie. En die rugby skrywer is reg. Spelers soos Mbonambi, Nyakane, Moodie, Arendse en Ox is brilliant. Die res is op hul beste Currie beker spelers.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vir die eerste 10 minute is Kolisi heel skaflik. Daarna sak hy uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.