White kies vir Combrinck op heelagter

Ruan Combrinck en Cornal Hendricks vier ’n drie in die Curriebeker-eindstryd. Die 31-jarige Combrinck begin op heelagter teen Connacht. Foto: GB Jordaan.

Ruan Combrinck, die voormalige Springbok- en Leeusspeler, begin môreaand op heelagter vir die Bulls teen Connacht.

Die Pretorianers sal ongetwyfeld ’n beter vertoning wil lewer nadat hulle verlede week met 31–3 teen Leinster verloor het.

Toegegee, Leinster is waarskynlik die sterkste span in die reeks en die Bulls weet nou wat om in Europa te verwag.

Jake White (afrigter) is ook maar alte bewus van die feit dat nog ’n taai uitdaging op sy span wag.

“Dit is g’n maklike taak om twee agtereenvolgende weke teen sterk Ierse spanne te speel nie. Connacht is goed afgerig en hulle sal ook weer op die wenpad wil kom nadat hulle verlede week teen Cardiff verloor het,” het die voormalige Springbok-afrigter gesê.

Die 31-jarige Combrinck het sewe toetse vir die Springbokke gespeel, terwyl hy in meer as 70 Superrugby-wedstryde vir die Lions in aksie was.

Volgens White sal die veteraan se skopvaardighede van groot waarde in ’n koue en nat Ierland wees.

Bismarck du Plessis, wat maar gesukkel het om sy lynstaanspringers teen Leinster te vind, is op die plaasvervangersbank saam met spelers soos Embrose Papier en Stedman Gans.

Die wedstryd begin Vrydag om 20:35 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Ruan Combrinck (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Lionel Mapoe (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortje (slot), Walt Steenkamp (slot), Jacques van Rooyen (stut), Joe van Zyl (haker) en Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Janko Swanepoel, Jacques du Plessis, Embrose Papier, Chris Smith en Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Genugtig, ‘n stem roepende in die woestyn. Ek het nie geweet hierdie ou speel nog rugby nie. Van wanneer af is hy by die Bulle?

Madelein ·

Hoekom is David Kriel nie weer gekies nie? En is ook nie op die plaasvervangerbank nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.