Wie sal vir Sonny Bill Williams in toom hou?

Sonny Bill Williams in aksie.. (AP Photo/Natacha Pisarenko)

In 1995 het die Springbokke vir James Small en Joost van der Westhuizen gehad wat vir Jonah Lomu op Ellispark platgetrek het.

Druk nou die versnelknoppie na 21 September 2019, en hoewel hy nie heeltemal die 22-jarige Lomu se statuur, jeug óf krag het nie, is Sonny Bill Williams steeds een van die gevaarlikste aanvallende spelers in wêreldrugby.

Die 34-jarige Williams staan 1,94 m in sy sokkies en laat die skaal op 108 kg kreun – indrukwekkende leesstof vir enige senter én eintlik heel vergelykbaar met Lomu se 1, 96 m en 119 kg – maar dit is eerder “SBW” se ongeëwenaarde vermoë om die bal in die onmoontlikste situasie uit te gee, wat hom werklik gevaarlik maak.

Goeiste, skoolkinders noem dit al selfs die “Sonny Bill pass”.

Terwyl hy selde of ooit probeer om bo-oor ’n verdediger te hardloop, maar eerder poog om sy pad na die doellyn deur ’n gaping te bewerkstellig, trek hy so gereeld as klokslag twee of drie verdedigers; wat sodoende dinge aansienlik makliker vir die ander All Black-agterspelers maak.

Die meeste Springbok-ondersteuners is waarskynlik ontevrede langs die braaivleisvure met Rassie Erasmus se groep van 31 spelers vir die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan, maar heimlik opgewonde in hul binnekamers oor die span se kanse om ten minste die uitspeelrondes te haal.

Erasmus het vir Frans Steyn, Damian de Allende, Lukhanyo Am en Jesse Kriel tot sy beskikking om die senterpaar vir die openingswedstryd teen SBW en die All Blacks op 21 September in Yokohama te kies.

Volgens die voormalige Blitsbok en Bloubul-skrumskakel, Conrad Breytenbach, sal hy graag wil sien dat Erasmus vir Steyn en Am speelkans gee.

“Frans gee vir jou ’n ekstra besluitnemer-opsie langs Handré Pollard, terwyl twee losskakels langs mekaar nog altyd lekker gewerk het. Hy kan ook die donkiewerk doen omdat hy sterk is,” het Breytenbach gesê.

Maar sal die kombinasie van Steyn en De Allende nie beter werk om vir Williams dop te hou nie – juis omdat hulle dalk meer ervare verdedigers is?

“Sonny Bill se lengte en krag beteken dat hy ’n 50/50-aangee suksesvol kan wegkry terwyl hy in die kontaksituasie is. Dan hardloop hy ook in die gaping tussen twee verdedigers wat hom die geleentheid bied om van die bal ontslae te raak.

“Die senterpaar – of dit nou De Allende, Steyn, Am of Kriel is, sal hom saam met die bal moet têkkel, want as hulle probeer om hom laag te vat, gee dit hom kans om te off-load. Dan moet jy ook probeer om die spelers te blokkeer wat van hom af hardloop en hulle spasie toemaak sodat hy nie die bal kan uitgee nie.”

Wie sal Breytenbach as sy losvoorspelers kies? “Beslis vir Siya Kolisi, Francois Louw en Duane Vermeulen, met Kwagga Smith wat dan as ’n impakspeler opkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Robert ·

Die spanne het hulle strategie al hele ruk terug uitgewerk hoe om SBW in toom te hou. Sy uitgee was ‘n probleem gewees vir sekere spanne so ruk terug maar hy is glad nie meer die gevreesde speler wat hy ruk terug was nie nie. As daar een man is wat nie bang haar op sy kop het om groot manne vas te vat nie is dit Cheslin Kolbe.

kolla ·

De Allende is nie veel kleiner nie. SBW pla my glad nie, baie stadig.

Swartwolf ·

Die ellende is stadiger, en swakker. Slotte hardloop hom al in.

Frans C ·

Manu Tuilagi van Engeland is self ‘n handvol op 114 kg en 1.85. As jy egter van groot sterk agterspelers wil kyk,kyk dan Fiji. Jale Kaikadavu Vatubua is een van die groot manne op senter en is 1.89 en 121 kg.

Die groot gevaar man in Engeland is Joe Cokanasiga op vleuel. Op 1.93 en 122 kg en met ‘n tyd van vinniger as 1o meter per sekonde gaan hy ‘n handvol wees.

Apools ·

Agterspelers word al groter en vinniger. Bokke het genoeg spoed op vleuels maar die senters is gemiddeld. England se agterlyn lyk vreesaanjaend itv spoed met May, Tuilagi en Cokanasiga, en as die size en fisiese krag van die laasgenoemde twee ten volle gebruik word sal die bokke moet bontstaan.

Swartwolf ·

Sien Etsebeth is gevra om die HRC te gaan sien…..daar is ‘n klag teen hom gemaak. Ek het gese “watch this space”, drama aan die kom hy gaan braai by die huis ipv sushi in Japan. Dit kom van so optree.

Poot ·

Enige speler sal vir SBW kan keer. Sy glorie dae is lankal verby. Hou vir Kwagga dop as hy speelkans kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.