Willemse, Libbok en Zas in Stormers-agterlyn

Leolin Zas is een van die Stormers se gevaarmanne. (Foto: Hansie Linde.)

Die immergroen Deon Fourie voer Saterdagaand ʼn Stormers-span aan wat oor ʼn opwindende agterlyn beskik.

Damian Willemse sal die no. 15-trui dra, met Courtnall Skosan en Leolin Zas die twee vleuels. Dan sal Suleiman Hartzenberg en Dan du Plessis diens in die middeveld doen, terwyl Manie Libbok die toutjies op losskakel trek.

Voorlangs vorm Fourie saam met Hacjivah Dayimani en Ben-Jason Dixon die lostrio en die Stormers-skrum sal deur Sti Sithole, André-Hugo Venter en Neethling Fouché geanker word.

Joseph Dweba, Ali Vermaak en Brok Harris sal later vir nog skrumkrag van die plaasvervangersbank sorg.

Dit is die Kapenaars se laaste tuiswedstryd op die DHL-stadion vir ʼn rukkie en teen Vrydagoggend was daar reeds 20 000 kaartjies vir die tweestryd opgeraap.

“Ons sal baie daarvan hou om nog ʼn goeie vertoning te lewer. Dit gaan egter nie maklik wees nie, want ek verwag dat Sale ook alles in die stryd sal werp om te wen,” het die afrigter, John Dobson, gesê.

Du Plessis het in aanloop tot die kragmeting met sy afrigter saamgestem.

“As jy nie Sale se groot voorspelers in toom hou nie, kan hulle binne ʼn japtrap voorvoetmomentum geniet. Tog is dit juis húlle teen wie jy wil speel – jy wil jouself met die bestes vergelyk,” het die senter gesê.

Daarbenewens is daar ook ʼn rits Suid-Afrikaners (onder wie Robert du Preez en Ernst van Rhyn) in die Sale-groep.

“Dit gaan interessant wees om met ouens kragte te meet wat vantevore hul rugby in Kaapstad gespeel het. Hulle het kennis van die Stormers se rugby-DNS, maar ons is opgewonde oor die kragmeting.”

Die wedstryd begin Saterdag om 19:30 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Courtnall Skosan (regtervleuel), Suleiman Hartzenberg (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Hacjivah Dayimani (agtsteman), Ben-Jason Dixon (flank), Deon Fourie (kaptein en flank), Ruben Fourie (slot), Adre Smith (slot), Neethling Fouché (stut), André-Hugo Venter (haker) en Sti Sithole (stut). Plaasvervangers: Joseph Dweba, Ali Vermaak, Brok Harris, Connor Evans, Marcel Theunissen, Nama Xaba, Paul de Wet en Warrick Gelant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.