Willie trek weer die toutjies op heelagter

Willie le Roux. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Willie le Roux se visie op ʼn rugbyveld beteken dat hy geleenthede raaksien om drieë te druk. Nie net om ʼn individuele poging af te rond nie, maar ook om ʼn spanmaat met ʼn goedberekende aangee in ʼn gaping weg te stuur.

Nou sal die 34-jarige agterspeler op sy beste moet wees wanneer Suid-Afrika met Tonga in sy finale groepwedstryd van die Wêreldbeker-toernooi in Marseille kragte meet.

Skotland se kwarteindstryd-hoopvlammetjie brand immers nog en die Springbokke moet die komende wedstryd met ʼn bonuspunt beklink om hul pad na die uitspeelrondes ʼn definitiewe hupstoot te gee.

Maklik gaan dit beslis nie wees nie.

Die eilandmanne gaan waarskynlik met die vryheid van ʼn span speel wat niks het om te verloor nie, terwyl hul individuele sterre ook vir ʼn kopseer of twee kan sorg.

“Dit is ʼn groot week teen Tonga. Dit is uitkloprugby vir ons en dit gaan ʼn klipharde wedstryd wees – daar is ʼn paar gróót spelers wat vir hulle uitdraf,” het Le Roux gesê.

Ben Tameifuna laat byvoorbeeld die skaal op 151 kg in die voorry kreun, terwyl hulle ook met sterk agterspelers spog.

(Foto: Twitter/All Blacks)

“Dit beloof om ʼn fisieke tweestryd te wees en ek dink daar gaan beslis ʼn paar seer lywe ná afloop van die kragmeting wees. Ons sal ons man op verdediging moet kan staan want hulle beskik oor spelers wat uit die bloute ʼn aanvalsgeleentheid kan skep.”

Le Roux was verlede naweek nie in die span nie – Damian Willemse het toe die no. 15-trui teen Ierland gedra – en hy is oorgehaal om ʼn verskil in die Bok-trui te maak.

“Ek wil my beste gee, die wedstryd geniet en alles in die stryd werp om die kragmeting te wen. Ons beskik oor ongelooflike diepte in die groep en jy kan dit nie bekostig om op jou louere te rus nie. Die spelers druk mekaar om beter te speel.”

Die Groep B-wedstryd tussen Suid-Afrika en Tonga is Sondag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Grant Williams (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Duane Vermeulen (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Vincent Koch (stut), Deon Fourie (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Marco van Staden, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, Franco Mostert, Kwagga Smith, Jaden Hendrikse, Jesse Kriel en Manie Libbok.

  • Groep B:

Ierland: 14 punte ná drie wedstryde

Suid-Afrika: 10 punte ná drie wedstryde

Skotland: 5 punte ná twee wedstryde

Tonga: geen punte ná twee wedstryde

Roemenië: geen punte ná twee wedstryde

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Niklaas ·

Ons Bokke se span lyk heel gedug , al is daar ‘n paar sterre ook op die paviljoen wat ruskans kry.

Andre ·

Met Willie daar gaan daar weer n klomp aanslane en vorentoe aangees wees moenie die swak verdediging vergeet nie weet wat soek die nar daar nie

vuurvliegie ·

Stem 100% My geld is op Tonga as Willie mooi op sy stukke is.
Willie probeer meer Ref wees as die skeidsregter homself

Tokkel ·

Andre, as jy so goed is teen Willie le Roux, stuur asb jou CV vir Rassie. Daar is baie wat die bal misvang. Ek volg alle wedstryde en dit is allerdaags om mis te vang. Hoekom kritiseer mens so jou eie land se sportmense. Ons is veronderstel om saam te staan. As dit nie Libbok is nie is dit Willie. Gewoonlik sit die bestes op die kantlyn..

Sobymykoolkop ·

Ag nee ou tokkel jy tokkel op die verkeerde snaar man. Waar kom jy daaraan dat dat mense jou eie land MOET ondersteun? Baie van ons hou nie van die bbeee span nie. As JY die span ondersteun ondersteun jy seker ook regstellende aksie

vuurvliegie ·

Goeie antwoord vir Tokkel. Die helfte van SA ondersteun die All Blacks waarvan ek een is oor dieselfde redes. Tokkel praat nie namens ons nie.

George ·

So jy het die reg om te ondersteun wie jy wil, maar as ander die Bokke ondersteun, ondersteun hul automaties die stelsel?

George ·

Ja maar Willie is nou al vir lank n probleem, hys die Markram van die Bokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.