Só lyk SA se medalje-oes nou

Die 37-jarige Impey, wat weens Covid-19 nie aan vanjaar se Tour de France kon deelneem nie, was tweede in die padwedren vir mans oor 160 kilometer. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse span by vanjaar se Statebondspele in Birmingham het Sondag met 26 medaljes (sewe goud, agt silwer en 11 brons) ingegaan en was dit nie vir die veteraan-fietsryer Daryl Impey nie, sou die medalje-oes uiters skraps gewees het.

Die 37-jarige Impey, wat weens Covid-19 nie aan vanjaar se Tour de France kon deelneem nie, was tweede in die padwedren vir mans oor 160 kilometer.

Die Nieu-Seelander Aaron Gate het die ren in ʼn tyd van 3 uur, 28 minute en 29 sekondes gewen.

Hoewel Impey met Suid-Afrika se enigste medalje kon spog, was die 26-jarige Morné van Niekerk een van die fietsryspan se onbesonge helde. Hy was die hele tyd saam met die voorste groep jaers en het baie hard gewerk om dit vir Impey moontlik  te maak om die ander jaers in die naelrit einde toe uit te stof.

In die vroueren het die plat roete nie Suid-Afrika se Ashleigh Pasio-Moolman gepas nie en sy het 11de geëindig. Die ren is deur die Australiër Georgia Baker gewen met Hayley Preen tweede, met dieselfde tyd van 2 uur, 44 minute en 46 sekondes.

Die Suid-Afrikaner Kerry Jonker was 39ste – 5 minute en 17 sekondes agter Baker-hulle.

Suid-Afrika gaan Maandag se laaste dag in met 27 medaljes (7 goud, 9 silwer en 11 brons), maar die span is nou ook deur Wallis ingehaal en is negende op die medaljelys.

Australië is steeds voor met 174 medaljes (66 goud, 55 silwer en 53 brons) gevolg deur Engeland met 166 medaljes (55 goud, 59 silwer en 52 brons). Dan volg Kanada (91 medaljes), Nieu-Seeland (48), Indië (55), Skotland (49), Nigerië (35) en Wallis (27), wat een meer goue medalje as Suid-Afrika gewen het.

Só het Suid-Afrika Sondag gevaar: Atletiek: Spiesgooi (vroue): Jo-Anne van Dyk eindig sewende met haar beste gooi van 57,12 meter. Australië se Kelsey Lee-Barber wen met haar laaste gooi van 64,53 meter.

5 000 meter (vroue): Dominique Scott eindig vyfde in ʼn seisoensbeste tyd van 15:07.50. Kenia se Beatrice Chebet wen goud in 14:38.21.

4×400-aflos (vroue): Die SA span bestaande uit Miranda Coetzee, Taylon Bieldt, Shirley Nekhubui en Zenéy van der Walt eindig vyfde in 3:30.25. Engeland wen aanvanklik goud in 3:25.85, maar word gediskwalifiseer wat die deur vir Kanada oopmaak (3:25.86) om tot goud bevorder te word. Suid-Afrika skuif dus tot vierde op.

Fietsry: Padren vir vroue: Ashleigh Moolman-Pasio eindig 11de, met Georgia Baker van Australië eerste in 2 uur, 44 minute en 46 sekondes. In die padren vir mans eindig Daryl Impey tweede agter Aaron Gate van Nieu-Seeland in ʼn fotobeslissing.  Morné van Niekerk eindig 24ste met Callum Ormiston 37ste. Gustav Basson is by die 144 km-merk deur beamptes afgetrek. ­

Bron: Saskok

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.