Unieke nuwe liga ʼn hupstoot vir SA hokkie

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Nuwe, unieke hokkieliga vir Suid-Afrika se voorste spelers het twee weke gelede in Randburg begin – en die verwagting is dat dit die standaard van hokkie in Suid-Afrika ʼn stewige hupstoot sal gee.

Die nuwe Suid-Afrikaanse Premier Hokkieliga (PHL) bestaan uit vyf vroue- en vyf manspanne wat uit die land se keurspelers gekies is, en ook die twee nasionale o.21-spanne.

Die wyse waarop die senior spanne gekies is, is geskoei op ʼn Amerikaanse model wat in basketbal (NBL) en Amerikaanse voetbal (NFL) gebruik en hierna verder toegelig word.

Die nuwe liga is ʼn integrale deel van SAHA se hoëprestasie-ontwikkeling om die land se spelers beter voor te berei vir internasionale deelname. Hierdie liga word deur die departement van sport en ontspanning ondersteun en is reeds twee naweke aan die gang met nog twee wat voorlê.

Die spelers is dol daarop en dit lyk of dit ʼn groot sukses sal wees. Daar word hoëgehalte-hokkie deur mededingende spanne gespeel.

Die senior spanne is almal franchise-spanne wat 100% aan SAHA behoort. Die name van die spanne is verkry uit toeriste-aantreklikhede in al nege provinsies. Die manspanne is die Addo Elephants, Drakensburg Dragons, Garden Route Gazelles, Golden Gate Gladiators, Mapungubwe Mambas en die Maropeng Cavemen. Die nasionale o.21-manspan is die Golden Gate Gladiators.

Die vrouespanne is die Blyde River Bunters, Madikwe Rangers, Namaqualand Daisies, Orange River Rafters, St Lucia Lakers en die Wineland Wings. Die o.21-span is die Namaqualand Daisies.

♦  Die unieke aspek van die liga is die wyse waarop die spanne gekies is. Daar is vyf afrigters aangestel en vier voorafverkose spelers (die sogenaamde “marquee-spelers”) is aan elke span toegewys. Hulle is hoofsaaklik spelers met internasionale ervaring.

Die afrigters trek dan ʼn nommer uit ʼn hoed en in volgorde kies hulle uit die poel spelers vir hulle span. Wanneer elk sy eerste speler gekies het, word daar by die nommer vyf-afrigter begin. Hierdie  proses word herhaal totdat elke afrigter die sewe benodigde spelers vir sy span gekies en ʼn totaal van 18 spelers in sy spangroep het.

Spelers wat nie geloot is nie, vorm ʼn reserwepoel wat dan deur al die spanne in die geval van onttrekkings gebruik kan word.

Al vanjaar se wedstryde word by die Randburg Astro gespeel. Elke span speel in die rondomtalie-fase teen al die ander spanne en dit word deur uitspeelwedstryde gevolg.

Daar is R5 000 prysgeld vir die speler van elke wedstryd en die twee wenspanne kry R50 000. Die prysgeld is deur die departement van sport en ontspanning beskikbaar gemaak.

Die o.21-spanne sal al die geld wat hulle wen, aanwend om te help met die onkoste van hulle deelname aan die Junior Wêreldbekertoernooie. Die nasionale o.21-vrouespan se toernooi is van 24 November tot 4 Desember in Santiago in Chili. Die mans speel van 8 tot 18 Desember in Lucknow in Indië.

Die ander tien franchise-spanne in die HPL-toernooi het onderneem om die o.21’s te ondersteun en sal 50% van hulle prysgeld aan die nasionale spanne skenk.  Dit sal hulle toerfonds ʼn hupstoot van sowat R125 000 gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiepie ·

Dit klink na ‘n baie goeie inisiatief en ek wens hulle alle sterkte toe. Hokkie is besig om baie veld te wen in veral plattelandse skole waar dit voorheen ongekend was. Ek is bly om te sien daar is ten minste een beheerliggaam wat met vernuwende denke voorendag kom om die toekoms van hulle sport te verseker. Krag teen krag is al manier om spelers bloodstelling te gee aan die hoë eise van topvlak sport. En dan buig SARU agteroor om kleiner unies soveel moontlik speelkans te gee te koste van die standaard van die spel wat opgedis word. Wel gedaan SAHA.

Popeye ·

Baie goeie hokkie word ook gespeel. Ek het so bietjie op die TV gekyk.

Maria van Dieweeck ·

Klink goed, ek hou veral van die dames spanname.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.