Vandag se sportnuus

Ernie Els. Foto: Tyrone Winfield/ANA

Gholf:

Suid-Afrika se Ernie Els, Christiaan Bezuidenhout en George Coetzee is saam met ses ander gholfspelers net drie houe agter die voorloper, Matt Wallace van Engeland, ná die eerste ronde van die BMW PGA-toernooi wat op Wentworth in Engeland gespeel word.

Die drie Suid-Afrikaners het almal 68 houe, vier minder as die baansyfer, op hul telkaarte ingevul. Wallace (65, -7) is een hou voor Jon Rahm van Spanje en Swede se Henrik Stenson (albei 66), gevolg deur Engeland se Justin Rose (67).

Rugby:

Engeland se afrigter, Eddie Jones, het ʼn opwindende span gekies vir die span se WB-openingswedstryd Sondag in Sapporo teen Tonga.

Jones het voorkeur aan George Ford op losskakel gegee met die kaptein, Owen Farrell, op binnesenter. Hy het ook die twee jong flanke, Sam Underhill en Tom Curry, gekies, maar die beseerde Jack Nowell en Mako Vunipola is steeds nie oorweeg nie.

Die Engelse span is: 15 Elliot Daly, 14 Anthony Watson, 13 Manu Tuilagi, 12 Owen Farrell (k), 11 Jonny May, 10 George Ford, 9 Ben Youngs, 8 Billy Vunipola, 7 Sam Underhill, 6 Tom Curry, 5 Maro Itoje, 4 Courtney Lawes, 3 Kyle Sinclar, 2 Jamie George, 1, Joe Marler.  Plaasvervangers: 16 Luke Cowan-Dickie, 17 Ellis Genge, 18 Dan Cole, 19 George Kruis, 20 Lewis Ludlam, 21 Willi Heinz, 22 Henry Slade 23 Jonathan Joseph.

SA se Tabraiz Shamsi in aksie. Foto: (AP Photo/Altaf Qadri)

Krieket:

* Aiden Markram (161) en die veelsydige Wiaan Mulder (131*) het Woensdag hul spiere gebult vir die Suid-Afrikaanse A-krieketspan op die derde dag van die tweede vierdagwedstryd teen Indië A in Mysore.

Nadat Suid-Afrika A Woensdagoggend in ʼn stadium op 142/5 in die moeilikheid was nadat Indië A vir 417 uitgehaal is, het die Suid-Afrikaners by 400 uitgekom.

Markram en Mulder het vir ʼn vennootskap van 155 gesorg en gewys hoe daar op Indiese blaaie gekolf moet word. Indië A het 27/0 ná 17 boulbeurte in sy tweede kolfbeurt gehad.

* Die nuwe Pakistanse krieketafrigter, Misbah-ul-Haq, 43, het sy voet neergesit en die spelers se dieet verander in ʼn poging om hul meer gesond te laat leef en fikser te kry.

Volgens die Indian Times sal die spelers rooi vleis, breyani, olierige kos en soet disse vermy en eerder op gebraaide vleis, pasta en vars vrugte staatmaak.

Fietsry:

Die Britse fietsrykeurders het die Wallieser Geraint Thomas, wat in 2018 die Tour de France gewen het, in hul span ingesluit vir die komende Wêreldkampioenskap wat van 22 tot 29 September in Yorkshire gehou word.

Die 33-jarige Thomas sal op 25 September aan die tydtoets deelneem asook later aan die padren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.