Vandag se sportnuus

Paulo Gonçalves. Foto: (AP Photo/Bernat Armangue)

Dakar:

  • Die 40-jarige Paulo Gonçalves van Portugal is Sondag tydens die Dakar-veldtydren dood nadat hy met sy motorfiets geval het en noodlottig beseer is. Dit was sy 13de Dakar.
  • Spanje se Carlos Sainz het sneltrajek 7 in sy Mini gewen.

Krieket:

  • AB de Villiers het in Australië aangekom waar hy vir die Brisbane Heat in die Big Bash League sal speel.

Gholf:

  • Branden Grace het Sondag op die Randpark-baan in Johannesburg die Suid-Afrikaanse Ope-gholftoernooi gewen.

Grace, wat die laaste ronde in ʼn skitterende 62 houe, nege houe onder die baansyfer, aan flarde geruk het, het sy eerste SA Ope by sy versameling van agt oorwinnings in die Europese reeks en ʼn sege in die Amerikaanse reeks gevoeg.

Serwië vier hul oorwinning in die ATP-beker. Foto: (AP Photo/Steve Christo)

Tennis:

  • Serwië het Sondag die eerste ATP-beker in Sydney verower toe hy Spanje met 2-1 getroef het.

Novak Djokovic het Rafael Nadal met 6-2, 7-6(4) geklop waarna Djokovic en Viktor Troicki vir Carreno Busta en Feliciano Lopez met 6-3, 6-4 in die dubbelspelwedstryd laat les opsê het.

  • Amerika se Serena Williams het Sondag die Auckland Classic gewen.

Williams het haar landgenoot Jessica Pegula met 6-3, 6-4 geklop om die titel te verower.

Rugby:

  • Die Sharks het gemengde welslae behaal in hul twee opwarmingswedstryde.

Die Sharks het met 31-26 teen die Pukke verloor voor hulle Rusland met 64-14 geklop het.

  • Die Bulls het tydens hul twee opwarmingswedstryde teen die Tukkies behóórlik die drieë ingeryg.

In die eerste wedstryd het hulle ses drieë gedruk om uiteindelik met 40-0 te wen. In die daaropvolgende kragmeting het hulle die krane oopgedraai om met 96-5 te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.