Vandag se sportnuus

Janneman Malan op die aanval. Foto: Twitter via IKR.

Krieket:

  • Mark Boucher het sy eerste trofee as die hoofafrigter van die Proteas ingeoes nadat die Suid-Afrikaners gister in die tweede eendagwedstryd op Bloemfontein Australië met ses paaltjies geklop het. Die oorwinning sorg dat hulle hul eerste reeksoorwinning in 12 maande gesmaak het.

Nadat ’n skitterende Lungi Ngidi (6/58) die Aussies tot 271 beperk het nadat hulle die loot gewen het, het Janneman Malan gewys van watter stoffasie hy gemaak is.

As daar ooit ’n fliek gemaak sou word oor ’n kolwer wat net een wedstryd nodig gehad het om van nul na bul oor te skakel, sal Malan die hoofrol vertolk.

Nadat Mitchell Starc hom eerste bal been voor paaltjie in die Paarl betrap het, het hy gisteraand sy kritici se monde gesnoer met ’n skitterende onoorwonne 129 lopies.

Sy spogbeurt het sewe viere en vier sesse ingesluit en hy was veral sterk op die agtervoet waar hy drie reuse-sesse oor die grens gehaak het.

Die derde en laaste eendagwedstryd word Saterdag in Potchefstroom beslis.

  • Die Protea-vroue speel vandag in die halfeindstryd van die T20-wêreldbeker teen Australië in Sydney.

Die Suid-Afrikaners is tot dusver onoorwonne in die toernooi en veral hul kolwers beïndruk met hul slaankrag.

Vroeër het Indië vir die eindstryd gekwalifiseer nadat hul halfeindstryd-kragmeting teen Engeland deur reënweer in die wiele gery is.

Indien die Protea/Australië-wedstryd ook uitreën sal die Suid-Afrikaners vir die eindstryd kwalifiseer omdat hulle hul groep gewen het.

Rugby:

  • Manie Libbok sal Morné Steyn in die Bulls se beginspan vir hul wedstryd teen die Highlanders op Loftus Versfeld vervang.

Bulls:  Warrick Gelant (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Nafi Tuitavake (buitesenter), Johnny Kotze (binnesenter), Rosko Specman (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Muller Uys (agtsteman), Josh Strauss (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortje (slot), Ian Groenewald (slot), Trevor Nyakane (kaptein en stut), Jaco Visagie (haker) en Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Ryno Pieterse, Ruan Steenkamp, Ivan van Zyl, Morné Steyn en Divan Rossouw.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.