Vandag se sportnuus

Rafael Nadal. (Foto: Eduardo Munoz Alvarez, AP)

Tennis:

  • Kort nadat oorsese tennisjoernaliste nog gespekuleer het of Rafael Nadal in aksie by die Amerikaanse Ope sal wees, het die Spaanse ster gisteraand op sy amptelike Twitter-rekening bevestig dat hy nie na New York sal reis nie.

“Nadat ek lank en deeglik oor alles gedink het, het ek besluit om nie in die Amerikaanse Ope te speel nie,” het die verdedigende kampioen gesê.

“Dit is ’n baie moeilike situasie – Covid-19-gevalle neem toe en dit lyk asof dit nog nie onder beheer is nie.”

Die 34-jarige het die organiseerders van die toernooi bedank vir hul harde werk om die toernooi te midde van die wêreldwye pandemie aan te bied.

“Dit is ’n besluit wat ek nooit sou wou neem nie, maar hierdie keer gaan ek na my hart luister en vir eers liewers nie reis nie.”

Met Nadal en Roger Federer se afwesigheid in New York bied dit vir Novak Djokovic ’n gulde geleentheid om sy 18de Grand Slam-titel in te palm.

Die wêreld se voorste speler se naam is nog op die toernooirooster saam met ander sterre soos Dominic Thiem en Stefanos Tsitsipas.

Die Madrid Ope is onlangs weens ’n hernieude vlaag Covid-19-gevalle afgelas, maar die Amerikaanse Ope sal tans steeds op 31 Augustus begin.

Krieket:

  • Ierland het gister op skouspelagtige wyse vir Engeland met sewe paaltjies in die laaste eendagwedstryd geklop nadat hulle 329 vir ’n oorwinning moes jaag.

Paul Stirling (142) en Andy Balbirnie (113) was die Iere se groot helde nadat hulle ’n spogvennootskap van 214 lopies om die tweede paaltjie geniet het.

Die Engelsmanne het egter steeds die reeks met 2 – 1 gewen.

  • Dan begin die eerste toets tussen Joe Root se span en Pakistan vandag op Old Trafford.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.