Vandag se sportnuus

Foto: Twitter.

Sokker:

  • Duitsland se Bayern München het gisteraand vir die sesde keer die Europese Kampioeneliga gewen toe hy Paris St Germain met 1–0 in Lissabon getroef het.

Kingsley Coman het die wendoel in die 60ste minuut aangeteken.

Rugby:

  • In rugbynuus was RG Snyman se debuut vir Munster van korte duur. Die reuseslot was vir slegs sewe minute op die veld voordat hy sy knie in ’n lynstaan beseer het.

Dave Kilcoyne en Jean Kleyn het ook weens beserings die veld teen Leinster verlaat, maar volgens Johann van Graan (afrigter) is Snyman se besering ’n harde hou vir die span.

“RG is ’n taai kalant en hy verlaat nie sommer die veld nie. Hy het ’n lynstaanbal gegaps en sleg geval; maar dit is waaroor rugby soms gaan. Daar is kere dat jy deur moeilike tye moet gaan.”

Leinster het uiteindelik die wedstryd met 27–26 gewen.

  • In Pro 14-aksie het Jaco van der Walt en Nic Groom sleutelrolle vertolk in Edinburgh se sege van 30–15 teen die Glasgow Warriors.

Groom het twee drieë gedruk, terwyl Van der Walt 15 punte met die skopskoen bygedra het.

Krieket:

  • Ondanks ’n kapteinsbeurt deur Azhar Ali (141) het Engeland steeds die hef in die hand in die derde toets in Southampton.

Ali se uithalerbeurt het gesorg dat die besoekers 273 in hul eerste beurt kon aanteken, maar hulle is steeds 310 lopies agter Engeland se eerstebeurt-telling van 583/8.

Die 38-jarige James Anderson het met die bal uitgeblink en spog met ’n boulontleding van 5/56. Hy benodig slegs twee verdere paaltjies vir 600 toetspaaltjies agter sy naam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.