Vandag se sportnuus

KSA word gereeld skoongeboul. Argieffoto.

Krieket:

  • Krieket Suid-Afrika sal poog om Saterdag onder meer sy nuwe president en uitvoerende hoof tydens die algemene jaarvergadering te kies.

Maar oudergewoonte kan dit weer eens vir meer drama en skandale as ’n sepie sorg.

Simphiwe Ndzundzu, die president van Grens-krieket, is vir ’n posisie op KSA se raad benoem, maar volgens mediaberigte is daar ’n saak van aanranding teen hom gemaak.

Volgens die berigte het Nduzundzu by die huis van ’n kollega, Sinethemba Mjekula, ingebreek en hom sowel as sy suster en ma aangerand. Hy het na bewering Mjekula se suster se arm met ’n knopkierie gebreek.

KSA het tydens die 3TeamCricket-inisiatief ook standpunt teen geslagsgebaseerde geweld ingeneem.

Verskeie voormalige administrateurs onder wie Ray Mali, die oudpresident van KSA, het intussen in ’n brief gevra dat die verkiesing eers ter syde gestel moet word.

Hulle het geskryf dat ’n tydelike uitvoerende hoof, administrateur en raad gekies moet word om krieket in die land te red.

Dan het KSA ook in adv. Dumisa Ntsebeza sy eerste transformasie-ombudsman aangestel. Enigeen wat meen dat hy weens ras van geleenthede ontneem is, kan die ombudsman nader om sy saak te stel. Ntsebeza sal dan die erns van die saak en die geskikte vergoeding daarvoor bepaal.

KSA moet nog die geld vir die projek insamel.

  • In bietjie meer positiewe nuus het Engeland een van sy beste lopiejaagpogings nóg gelewer toe hy Pakistan met vyf paaltjies in die tweede T20-kragmeting in Manchester geklop het.

Engeland moes 196 vir ’n oorwinning aanteken en sy openingskolwers, Jonny Bairstow (44) en Tom Banton (20), het soos vetgesmeerde blitse weggetrek. Hulle het ’n vennootskap van 66 lopies geniet voordat hulle kort na mekaar uitgehaal is.

Eoin Morgan (66 van 33 balle) en Dawid Malan (54 van 36) het daarna vir ’n spogvennootskap van 112 lopies gesorg.

Tennis:

  • Suid-Afrika se Kevin Anderson speel vanaand om 19:15 teen Alexander Zverev in die openingsronde van die Amerikaanse Ope in New York.

Lloyd Harris sal om 22:45 teen Marco Cecchinato te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.