Vandag se sportnuus

AB de Villiers is ook as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Twiter.

Krieket:

  • AB de Villiers en Virat Kholi van die Royal Challengers Bangalore het gisteraand onder groot druk ’n super beurt-tweestryd teen die Mumbai Indians gewen.

De Villiers het vroeër in die wedstryd ook sy staal met die kolf gewys om ’n onoorwonne 55 van slegs 24 aflewerings te slaan. Saam met Devdutt Padikkal (54) en Aaron Finch (52) het hy gesorg dat RCB 201/3 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken het.

Die span van Mumbai het vinnig paaltjies in hul beurt verloor en op 78/4 ’n nederlaag in die gesig gestaar, maar Ishan Kishan (99) en Kieron Pollard het ’n briljante vennootskap van 119 lopies gehad, voordat Kishan sy paaltjie in die laaste boulbeurt verloor het.

Maar die wedstryd het steeds gelykop geëindig en ’n super beurt moes die wenner bepaal. RCB se Navdeep Saini het ’n uitstekende boulbeurt afgestuur om die Mumbai-kolwers tot sewe lopies te beperk.

Daarna het De Villiers en Virat Kholi het elkeen ’n grenshou van Jasprit Bumrah se boulwerk geslaan om die wedstryd vir RCB te beklink.

Tennis:

  • In die Franse Ope op Roland-Garros het Spanje se Rafael Nadal maklik na die tweede ronde van die toernooi deurgedring toe hy vir Egor Gerasimov met 6-4, 6-4 en 6-2 getroef het.

Daarteenoor het Amerika se Tennys Sandgren ’n titaniese stryd teen Hubert Hurkacz gewen. Die eindtelling was 7-5, 2-6, 4-6, 7-6 en 11-9 in die Amerikaner se guns.

Sandgren het ’n Suid-Afrikaanse ma.

Rugby:

  • Drie Stormers-spelers – Frans Malherbe, Sergeal Petersen en Seabelo Senatla – sal Saterdag se Springbok Showdown-wedstryd weens beserings misloop.

Hulle word deur onderskeidelik Ruan Dreyer, Courtnall Skosan en Malcolm Jaer vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.