Wimbledon: Britte juig; raak toe stil

Die 18-jarige Emma Raducanu. (Foto: AELTC / David Gray / POOL / AFP)

Die Britse tennisondersteuners het gejil van plesier toe hul nuwe heldin, die 18-jarige Emma Raducanu, Saterdag tot die vierde ronde van die vroue-enkelspel op Wimbledon deurgedring het.

Raducanu het Sorana Cirstea van Roemenië met 6-3 en 7-5 geklop om die Britte se gemoedere die hoogte te laat inskiet, want hoeveel jaar smag hulle nie na werklike sukses op Wimbledon nie?

Die aandag het toe na die hoofbaan verskuif waar die Britte se tweede beste manspeler, Cameron Norrie, teen Roger Federer van Switserland te staan gekom het.

Federer, wat in die eerste ronde gesukkel het, begin al hoe beter speel namate die toernooi vorder en het met 6-4, 6-4, 5-7 en 6-4 gewen.

In Saterdag se ander belangrikste wedstryde in die vroue-enkelspel het die 18-jarige Amerikaner Cori Gauff ook die vierde ronde gehaal toe sy Kaja Juvan van Slowakye met 6-3 en 6-3 geklop het.

Angelique Kerber van Duitsland het haar kragmeting met Aliaksandra Sasnovich van Belarus met 2-6, 6-0 en 6-1 gewen.

* In die mansafdeling het die Duitser Alexander Zverev sy wedstryd teen die Amerikaner Florian Fritz met 6-7, 6-0, 6-3 en 7-6 (7/4) gewen.

Die Australiër Nick Kyrgios was weer om verkeerde redes in die kollig.

Kyrgios, die stoute seun van tennis, het kort voor sy kragmeting met Felix Auger-Aliassime agtergekom dat hy sy skoene in die kleedkamer vergeet het. Hy is boonop uitgeskakel nadat hy weens ʼn besering nie kon voortspeel in die derde stel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.