Aardklop se Pronk Podium-kompetisie gaan voort

‘n Groep tieners tydens verlede jaar se Pronk Podium-kompetisie. (Foto: Facebook)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees se Pronk Podium-kompetisie bied sedert 2017 jaarliks ʼn platform vir studente- en tienerteater. Dié kompetisie gaan vanjaar aanlyn voort.

Produksies wat deurdring na die halfeindstryd en die eindstryd word verfilm in die Atterbury-teater in Pretoria en sal aanlyn te sien wees.

Pronk Podium het vanjaar meer as 80 aanlyn solovertonings as inskrywings ontvang. Akteurs, skrywers en regisseurs landwyd het hul kreatiwiteit ingespan en verhoë gevind om hulle stories te vertel. Die 11 semifinaliste kry die geleentheid om hulle produksies te verfyn en aan te bied.

Ses tienertoneelstukke en vyf studentestukke ding op 28 Augustus mee in die hal

feindstryd en die eindstryd met ses stukke wat meeding vind op 29 Augustus plaas.

ʼn Hele paar bekendes, soos Kaz McFadden, Mila Guy en Johny Klein, tree vanjaar op as beoordelaars.

“Daar is min geleenthede vir kunstenaars en gehore om soveel kreatiwiteit, vernuf en werksetiek te sien soos met tienertoneel. Pronk Podium is sekerlik die opwindendste van hierdie platforms,” sê McFadden.

Mila Guy. (Foto: Facebook)

Volgens Guy bied Pronk Podium ʼn ongelooflike platform vir tieners en studente om toneel te speel. “As dramastudent het ek altyd gevoel ʼn mens het meer geleenthede nodig om fisiek op die verhoog te wees, jouself te leer ken en versekerd te raak van jou vermoë. Ek haal my hoed af vir hierdie jong teatermakers – om ʼn solostuk aan te pak verg moed en hulle kwyt hulle uitstekend van hul taak.”

Johny Klein beaam dit. “Die feit dat Pronk Podium vanjaar voortgaan ten spyte van alles wat aangaan om ons, is ʼn bewys dat teater nooit sal gaan lê nie. Hierdie projek wys hoe teater en rolprente kan trou om te midde van ʼn pandemie te verseker dat die platform sal bly voortleef.

“Ek moet ook beklemtoon hoeveel respek ek vir die jong talent het …  ʼn solostuk is vreesaanjaend en hulle speel briljant vir die gehoor én die kamera,” sê hy.

Dié projek word moontlik gemaak deur die Atterbury Trust, Noordwes-Universiteit se NWU Kunste en NATi.

Volgens Jaco van der Walt, seniorbestuurder van NWU Kunste, ondersteun hulle graag platforms waar studente die geleentheid kry om hul talente verder te ontwikkel.

“In hierdie moeilike tyd is Pronk Podium presies die regte platform vir jong talent. Tans is daar doodse stilte op elke verhoog in die land, maar ons almal het stories om te vertel.”

Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust, sê dié trust ondersteun al langer as 20 jaar Afrikaanse kuns, kultuur en gemeenskapsprojekte deur studiebeurse aan behoeftige studente toe te ken.

“In hierdie uitdagende tye wil ons steeds verseker dat jong kunstenaars se drome groter as hul vrese moet wees. Daarom ondersteun ons graag vanjaar weer die Pronk Podium.”

Aardklop Pronk Podium se semifinaliste is:

Tienerproduksies

Vry: Hoërskool Noordheuwel

Wentelkind: Hoërskool Parel Vallei

Kou-Vid: Hoërskool Zwartkop

ʼn Traumatiese retrospeksie: Hoërskool Noordheuwel

Wie’t gevra?: Hoërskool Randburg

Kollig: Hoërskool Hugenote

Studenteproduksies

Salig Onbewus

Skilderlig

Movies vir Ava

Christmas Shopping

Sharrap en eet jou kos!

Kaartjies vir Pronk Podium kos R60 en is beskikbaar by Ticketpro. Met dié kaartjie kan al 11 semi-finaliste se vertonings gekyk word. Die eindstryd sal op 29 Augustus aanlyn aangebied word. Meer inligting hieroor sal binnekort beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.